Immigrasie-adviseurs belig kwessies

(Soos op 13 Augustus 2009 in ‘Brokkies’, Die Afrikaanse Klub se weeklikse e-pos nuusbrief, gepubliseer.)
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland het gedurende Julie 2009 in ‘n artikel die kollig geplaas op die groot aantal Suider-Afrikaanse immigrante in Nieu-Seeland wat weens die resessie hul werk verloor en dan sukkel om weer na die arbeidsmark terug te keer - net om dan te besef dat hulle Nieu-Seeland moet verlaat omdat hul werkpermitte aan daardie poste gekoppel was.
Dit is egter nie die enigste probleem wat die kop uitsteek nie. Ons hoor van tyd tot tyd ook van skelmstreke waarmee niksvermoedende immigrante te doen kry.
Ons het by twee gelisensieerde immigrasie-adviseurs in die Suid-Afrikaanse gemeenskap gaan kers opsteek oor die omvang van hierdie soort probleme en verneem of hulle enige raad kan aanbied.
Mense met werkpermitte kwesbaarste
Johan van Zyl van Immigration Placement Services Ltd sê die ekonomiese resessie veroorsaak dat baie Nieu-Seelandse maatskappye sluit of rasionaliseer, en gewoonlik geld die beginsel van ‘last in - first out’ eers nadat hulle die persoon met ‘n werkpermit uit diens gestel het.
Hy verduidelik: “Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland kan basies in drie kategorieë ingedeel word: die wat burgerskap het, die wat permanente verblyfreg (‘residence’) het en die wat slegs werkspermitte het. Hoewel werkspermitte in goeie ekonomiese tye vir duisende mense ‘n nuwe toekoms kan beteken, kan dit in ‘n swakker ekonomie mense ook besonder kwesbaar laat.”
Erica Nothnagel van Silver Fern Immigration Services sê baie mense verstaan nie mooi dat werkspermitte nie ‘n waarborg vir permanente verblyf is nie.
“Ek raai mense aan om so gou moontlik met hul verblyreg-aansoek te begin. Baie mense verstaan die aspek rondom die ‘skill shortage list’ heeltemal verkeerd en dink hulle kwalifiseer nie omdat hulle poste nie daarop verskyn nie. Na my mening is dit een van die grootste redes waarom sommige mense selfs na 6 jaar nog op werkspermitte is. Mense moet maar liewer met ‘n gelisensieerde immigrasie-adviseur in aanraking kom om uit te vind of hulle kwalifiseer.
“In Nieu-Seeland word werkspermitte aan ‘n bepaalde tydperk gekoppel, bv. een, twee of drie jaar, en dit is nooit ‘n waarborg dat iets meer permanent daaruit sal spruit nie – hoewel so ‘n moontlikheid nie uitgesluit is nie. Hier in Nieu-Seeland bied ‘n langer werkpermit ook meer voordele aan die immigrant-werker, soos toegang tot die staat se gratis mediese dienste,” sê Erica.
Immigrante wat burgerskap aanvaar het, of wat permanente verblyfreg het is natuurlik in ‘n baie beter posisie, want indien hulle hul werk sou verloor, is hulle soos enige ander burger van die land geregtig op die beskermingsmeganismes van die staat.
Werkpermitte wat verval
Johan werp meer lig op die posisie van mense met werkspermitte: “'n Werkspermit wat byvoorbeeld geldig is tot 2010 of selfs langer, bied geen gewaarborgde beskerming indien iemand hul werk verloor nie, omdat die werkspermit meestal aan die hoofaansoeker toegestaan is om vir firma X te werk. Indien die persoon dus nie meer vir firma X werk nie, het die werkpermit verval en moet die persoon óf om 'n drie-maande besoekerspermit aansoek doen om tyd te skep om ander werk te soek, óf terugkeer na sy land van herkoms.
“Die hoofaansoeker se eggenoot se ‘oop werkspermit’ verval ook terselfdertyd , maar indien die eggenoot in ‘skilled employment’ werksaam is, kan hy/sy aansoek doen om as die hoofaansoeker geklassifiseer te word en dan kan die ander party weer 'n oop werkpermit kry.
“Bitter min werkgewers is egter bereid om die ingewikkelde immigrasieprosesse wat tans met die hernuwing van permitte gepaardgaan te hanteer, tensy hulle deur 'n kundige persoon geadviseer word,” sê Johan.
Erica sê werkgewers is ‘bang’ om werkspermitte in die huidige ekonomiese omstandighede te verleng, maar voeg by dat hulle meer gewillig daartoe is as hulle weet dat die aansoek deur ‘n kundige hanteer word wat al die korrespondensie vanaf Immigration New Zealand hanteer.
“Veral die ‘labour market checks’ wat Immigration New Zealand deesdae op bykans alle aansoeke doen, is papierwerk wat werkgewers eerder vermy as hulle kan,” lag sy.
Hernu werkpermitte vroegtydig
Erica stel voor dat mense ten minste vier tot ses maande voordat hul werkspermit verval, advies inwin oor wat hul keuses en kanse is. Sy het glo met baie mense te doen wat nie bewus is dat daar soms vir hulle ander opsies beskikbaar is nie.
“Daar is aspekte rondom die arbeidswet wat in ag geneem moet word by die hernuwing van werkspermitte. Die status van jou ‘Expression of Interest’ of jou verblyfregaansoek is ook krities belangrik by die hernuwing van werkspermitte.”
Johan rig ‘n waarskuwing: “Indien jy tans veilig voel in jou werk, maar weet dat jou werkspermit in 'n stadium hernu moet word, moet jy die realiteite van die tydraamwerke wat betrokke is in aanmerking neem. Tensy jy 'n beroep beklee wat op die nuwe ‘Long term skills shortage list’ verskyn, sal Immigration New Zealand die volgende bewyse van jou werkgewer vereis:
- Dat jou pos geadverteer was en geen geskikte Nieu-Seelanders aansoek gedoen het nie.
- Dat Work and Income New Zealand 'n ‘labour market check’ gedoen het en dat geen Nieu-Seelander beskikbaar was om die werk te doen of om daarvoor opgelei te word nie.
- Dat jou werkgewer baie sterk kan motiveer waarom jy in die pos moet aanbly.
- Dat jy die gesondheidstoetse geslaag het. ( Meer as 50% van aansoeke word tans deur Immigrasie na die mediese assessors in Wellington verwys en dit neem gemiddeld 2 maande voordat hulle 'n besluit geneem het!)”
Aanbevelings
Johan beveel aan dat mense minstens vier maande voordat hul werkspermit gaan verval, aansoek doen om 'n hernuwing sodat al die nodige prosesse hul loop kan neem, want ‘n mens mag nie werk na die datum van verval van ‘n werkspermit nie.
“Omdat jou werkgewer ook advies nodig het oor hoe om sake te hanteer sodat hulle jou kan behou, behoort julle van 'n gelisensieerde immigrasie-adviseur se dienste gebruik te maak. As jy jou werkspermit verloor omdat die aansoeke nie kundig hanteer was nie, het jy baie meer geld en geleenthede verloor as die geld wat jy aan 'n kundige sou betaal het!” sê Johan.
Erica stem saam: “Ja, praat met jou adviseur; dit kan ‘n goeie belegging vir jou toekoms wees. Familie en vriende bied gewoonlik met baie liefde immigrasieraad aan, maar hulle hou dikwels nie tred met veranderende wetgewing nie.
Maak verblyfreg die eerste groot doelwit
Johan was verstom oor hoeveel Suid-Afrikaners - met Kiwi-werkspermitte - nie die moeite doen om vir permanente verblyfreg aansoek te doen terwyl hulle die geleentheid daartoe het nie.
“So ‘n aansoek neem deesdae maklik 'n jaar en langer om af te handel. As jy gelukkig is, neem dit slegs vier maande, maar dit is uitsonderlik en het gewoonlik betrekking op mense wat op die ‘Long Term Skills Shortage List’ is.
“Gevalle is bekend van mense wat na drie jaar hulle werkspermitte verloor en dan na Suid-Afrika moet terugkeer. Dit is dikwels die resultaat van agtelosigheid, want as jy in ‘skilled employment’ is en oor die nodige Engelse vaardigheid beskik, hoef jy nie 'n jaar te wag om aansoek te doen nie.
“Daarom stel ek ernstig voor dat mense twee goed dadelik doen: Doen so gou moontlik aansoek om die hernuwing van jou werkspermit, asook jou permanente verblyfreg (PR) en verkry so beskerming vir jouself en jou gesin,” sê Johan.
Erica rig ook ‘n waarskuwing aan voornemende immigrante in hierdie verband: “Mense moet kop hou en die papierwerk korrek doen. Ek hoor dikwels van mense wat kortpaaie probeer neem en dan later vasbrand – op tye wat hulle dit kwalik finansieel of emosioneel kan bekostig.
“Dink net hoe dit sal voel as ‘n gesin reeds in die nuwe land is – met al die gepaardgaande finansiële uitgawes – net om later te verneem dat mens weer die land moet verlaat omdat vorms onvolledig voltooi is, of weens ander foute of weerhouding van inligting.
Vermy oneerlike adviseurs
Beide Erica en Johan verwys ten slotte ook na ‘n probleem van oneerlike adviseurs wat van tyd tot tyd kop uitsteek. Daar is gevalle bekend van gewetenlose persone wat mense se geld neem en dan niks werk doen nie, of foutiewe werk doen, wat later veroorsaak dat die onskuldige partye daaronder ly.
Hulle benadruk dat mense hul familie en vriende wat beplan om te immigreer, adviseer om slegs van immigrasie-adviseurs gebruik te maak wat in Nieu-Seeland gelisensieer is. (Kyk artikel hieroor)
(Artikel deur Philip Langenhoven)