Immigrasie-adviseurs nou in Kiwiland gereguleer

(Soos op 23 April 2009 in ‘Brokkies’, Die Afrikaanse Klub se weeklikse e-pos nuusbrief, gepubliseer.)

Het jy al om ‘n braaivleisvuur gekuier en allerlei sappige staaltjies aangehoor van hierdie of daardie immigrasie-adviseur wat glo ‘n kansvatter is, net om te hoor hoe ‘n ander persoon weer sy adviseur verdediging en vertel van die goeie diens wat hy ontvang het?

Daar is gewoonlik so baie opinies oor hierdie onderwerp en standaarde verskil blykbaar heelwat, maar een ding is seker: hoewel sommige mense besluit om hul eie immigrasie te hanteer, is daar duisende wat wel ‘n immigrasie-asviseur se hulp inroep – en ‘n goeie adviseur is baie werd.

Maar, aangesien die meeste van ons slegs een keer emigreer en geleerde lesse eintlik irrelevant is, hoe kan mens seker wees dat jy ‘n bekwame, betroubare immigrasie-adviseur aanstel vir daardie een groot saketransaksie wat so belangrik vr jou en jou gesin is?

Daar is natuurlik geen waarborg nie, maar regulering deur die owerheid sal baie gemoedsrus bring.  En dit is presies wat pas in Nieu-Seeland gebeur het.  Immigrasie-agente moet sedert 4 Mei 2009 in Nieu-Seeland gelisensieer wees, en teen 4 Mei 2010 moet ook immigrasie-agente wat in ander lande opereer hier gelisensieer wees as hulle mense se immigrasie na Nieu-Seeland wil hanteer.

Nuwe wet geskep om mense se belange te beskerm

In 2007 is ‘n wet in Nieu-Seeland aanvaar wat bekendstaan as die Immigration Advisers Licensing Act 2007, wat ten doel het om die belange te beskerm van mense wat advies oor immigrasie-aangeleenthede benodig.

Die Immigration Advisers Authority is ‘n liggaam wat die immigrasie-lisensiëringsproses bestuur. Dit word binne die Department of Labour gehuisves en het ‘n registrateur wat aan die hoof daarvan staan. Hierdie liggaam stel gedragsreëls op waaraan immigrasie-adviseurs moet voldoen en hanteer ook alle klagtes wat oor sodanige adviseurs ingedien word.

Immigrasie-adviseurs in Nieu-Seeland moet sedert 4 Mei 2009 gelisensieer wees en oorsese adviseurs op 4 Mei 2010.  Lisensies moet jaarliks hernu word en ‘n lisensie word slegs aan ‘n indiwidu toegeken en nie aan ‘n maatskappy of organisasie nie.  Dit is ook nie oordraagbaar nie.  Na 4 Mei 2009 is dit ‘n oortreding van die wet vir ongelisensieerde persone om immigrasie-advies aan voornemende immigrante te gee en oortreders kan by skuldigbevinding boetes opgelê word van tot $100,000 of sewe jaar tronkstraf.

Belangstellendes kan die wet hier lees.

Hoe definieer die wet immigrasie-advies?

“Immigration advice is: Using, or purporting to use, knowledge of or experience in immigration to advise, direct, assist or represent another person in regard to an immigration matter relating to New Zealand, whether directly or indirectly and whether or not for gain or reward.”

Is daar uitsonderings t.o.v. lisensiëring van immigrasie-adviseurs?

Ja.  Hier volg die uitsonderings van mense wat ongelisensieerd immigrasie-advies kan gee:

Hoe kan ‘n mens bepaal of ‘n adviseur geregistreer is?

Besoek die Immigration Advisers Authority se webblad en klik op die skakel na die openbare register.  Lees ook hier meer.

Vertel jou familie en vriende

So, as jy weer met vriende of familie gesels oor emigrasie en die werk wat daarmee gepaard gaan, kan jy hulle nou vanuit ‘n meer ingeligte uitganspunt oor immigrasie-advies adviseer en verhoed dat hulle moontlik ‘n baie duur fout maak.

(Artikel deur Philip Langenhoven)

                                            terug na begin

   ontwerp deur :: mari
bygewerk :: mei 2009