2009

Lijlanie Stander wen ATKV-kompetisie 


Dit het tot Brokkies se Redaksie se aandag gekom dat Lijlanie Stander van Nieu-Seeland in die ATKV Centurion se Lewensvreugde Afrikaanse Prosa- en Poësiekompetisie ‘n derde plek verower het in die kategorie prosa vir volwassenes. 


Wie is Lijlanie Stander? 
Toe ons hierdie vraag aan Lijlanie vra, antwoord sy spontaan:  “Ek is ’n Mamma, getroud met Rudi Stander en ons het 2 kinders: Rudo (16) wat hierdie jaar rugbyspeler van die jaar by Albany Senior High was (jammer, maar ’n ma moet spog as sy die kans kry, of wat sê ek!) en Alethia (3).”  Sy vertel dat hulle in Roodepoort gewoon het toe die Here vir hulle gesê het dat dit tyd is om te trek. Ses weke later het hulle in Nieu-Seeland kom kuier en na vyf weke hier, smoorverlief op die land en met ’n werksaanbod in die agtersak, het hulle gaan oppak. “Anderhalfjaar later, kyk ons nie een keer terug nie”. 
“In Suid-Afrika het ek as Prokureur, Aktevervaardiger en Notaris gepraktiseer. Kort na ons aankoms in Nieu-Seeland, het ek vir so ses maande by ’n plaaslike prokureursfirma gewerk, maar besluit dat my prioriteite en passie lê by Mamma-wees en, vir sover as wat laasgenoemde ‘beroep’ my dit toelaat, by skryf.  My ander groot passie was nog altyd die verhoog. ‘Raccoon’ is ’n musiekblyspel wat hier in Nieu-Seeland opgevoer gaan word en wat afspeel in die mooie Kaap, net voordat die slawe vrygestel is. In die musiekblyspel vertolk ek een van die “Boervrou”-rolle,” vertel Lijlanie met groot opgewondenheid. 


Wanneer het die skryfgogga gebyt? 
“Hoewel ek van skooldae af geskryf het, het ek nog nooit ’n daadwerklike poging aangewend om van my werk te publiseer nie. Toe Brokkies die ATKV-skryfkompetisie geadverteer het, het ek besluit dat dit ’n gulde geleentheid is om my gedagtes op papier vas te lê. Onverwags het daar weer ’n struikelblok in my pad kom lê: my Oupa is oorlede...en die tema van die skryfkompetisie was ‘Lewensvreugde’.  Met die sluitingsdatum om die draai, het ek eendag met oë vol trane en hartseer langs my dogtertjie gaan sit. Sy het haar klein handjies om my gesig gevou en baie simpatiek gesê: ‘Look at me, Mommy! Look at me. Don’t cry, Mommy! Don’t be sad!’ Net daar het ek besluit dat ek meer as genoeg rede het om oor ‘Lewensvreugde’ te skryf. Alethia is dan ook die motivering en die onderwerp van die stuk”, vertel Lijlanie voorts. 


....en die pad vorentoe met die skryfwerk? 
“Ek was baie in my noppies toe ek ’n derde plek verower het en het dit gesien as goeie motivering vir die toekoms”, antwoord sy toe ons haar uitvra oor haar planne vorentoe.  Aan al ons oud-Suid-Afrikaners reg oor die wêreld het Lijlanie hierdie goeie raad: “’n Nuwe begin in ’n nuwe land is net die regte milieu om ou, vergete drome te laat herleef en te verwesenlik!”

Baie geluk namens Brokkies en Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland. Hier is a skakel na Lijlanie se “Lewensvreugde” (pdf formaat) vir diegene wat graag die werk wil lees.