Afrikaanse kunstefees bou brûe
Die kleurvolle kunstestof het uiteindelik gaan lê. Kiwiland se eerste Afrikaanse
kunstefees in Nieu-Seeland, die Potpourri KunsteKwêla, is verby...
Van 8 tot 10 September 2001 het Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland
die lekker van die (loslit-)kunste in sy breedste verband uitgestal.
Lucas Maree van "Miljoen"-faam is spesiaal van Suid-Afrika af gebring
om sy "klank-kiekies" met gehore te deel in Napier, Hamilton en twee keer
in Auckland. Ja, aangesien die Saterdag se kaartjies uitverkoop is, moes 'n
"nood-optrede" vir die Sondagaand gereël word, om die teleurgesteldes tevrede
te stel.
Die klem was op Afrikaanse kunste, maar 'n potpourri van ander tale en kulture
het die geleentheid verryk. Die dag se besige program het ingesluit dansers
van die Cook-eilande asook heelwat Afrikaanse sangers, Russiese
volksmusiek (nogal deur twee Afrikaanssprekendes aangebied), en baie
meer. Die stalletjies, kunswerkwinkels soos Maori vlas-weefwerk en
"screen printing" asook die kunsuitstallings het bygedra tot 'n dag van kleur
en klank wat groot getalle Suid-Afrikaners en ook Kiwi's in 'n ontspanne atmosfeer
saamgebring het.
Aangesien hierdie eerste Afrikaanse kunstefees in Nieu-Seeland 'n relatief
klein begin was, is die hele Saterdag se dagprogram in een reuse-gimnasium
aangebied. Daar is gepoog om iets van 'n Oudtshoornse en Grahamstadse kunstefees
te simuleer en in een groot saal alles gelyk aan te bied (behalwe natuurlik
vir die musiekitems, wat heel ordelik op éen verhoog plaasgevind het!) sodat
die gevoel van 'n besige fees deurentyd geskep kon word.
Donkertyd is die momentum van die dag opgetel en 'n energieke, multi-etniese
program met die Afrikaanse inhoud verweef, ten spyte van 'n onwelkome kragonderbreking
wat op puik wyse deur die professionele orkes "Streetlevel" van Mark
Johns en vriende hanteer is. Hierdie manne is oorspronklik van Kaapstad. Afgesien
van hul kenmerkende Afrika-Jazz klank, het hulle ook talle van die ou bekende
Kaapse Klopse-musiek in 'n heerlike keurspel aangebied, wat die voete laat
juk het.
Geskiedenis is gemaak toe 'n uittreksel uit 'n tweetalige toneelstuk
van dramaturg Deon Opperman, "Sweet Sorrows" saam deur 'n Afrikaanse en 'n
Kiwi-aktrise opgevoer is. Hierdie stuk het 'n baie hartlike applous ontlok
en was duidelik baie gewild.
Die briljante Spaanse sang en Walliese dansers het die aandprogram goed gekomplementeer.
Oud-SATV nuusleser Norma Odendaal - allie pad van Christchurch af
- het as aankondiger opgetree terwyl verskeie eregaste van liggame soos die
Multi-Cultural Society, SANZ, SA Supporters Club
en ander daar was.
Skattings is deur sommige mense gewaag dat daar deur die loop van die dag
tussen 1,500 en 2,000 mense by die fees 'n draai kom gooi het, wat dit waarskynlik
die grootste enkele Suid-Afrikaanse byeenkoms in Nieu-Seeland gemaak
het.
Briewe van gelukwense en ondersteuning het uit verskeie oorde ingestroom.
Die algemene gevoel is dat baanbrekerswerk gedoen is en dat 'n lansie vir
die Afrikaanssprekende in Kiwiland gebreek is. Dit is veral waardevol as in
ag geneem word dat Suid-Afrikaners in die algemeen, maar Afrikaanssprekendes
spesifiek, redelik kwesbaar voel oor stereotipering wat dikwels plaasvind.
Talle Afrikaanssprekendes het na afloop van die fees bely dat hulle vir die
eerste keer voel hulle kan die kop nou optel, sonder vrees vir negatiewe persepsies
wat daar oor hulle kan bestaan.
Afrikaans was weliswaar die voertuig waarmee ander kulture se kunsvorms ook
uitgestal is, maar dit het gehelp dat talle vriende oor taalgrense heen gemaak
is. Engelssprekende Suid-Afrikaners, Kiwi's en anderstalige immigrante het
die fees terdeë geniet.
Die voorsitter van die Aucklandse Multi-Cultural Society, oorspronklik van
Indië, het in sy welwillendheidstoespraak gesê dat hulle voor die tyd besef
het dat hulle meer as die helfte van die program nie sal verstaan nie, maar
dat hulle desnieteenstaande die gala-aand wou bywoon om te beleef en te geniet
hoe die Afrikaanssprekende dit doen.
Goeie finansiële ondersteuning is van Creative Arts NZ (North Shore)
bekom, asook borgskappe van twee besighede in Suid-Afrikaanse besit, Century
Sound en Stationery World. Dit is vir Die Afrikaanse Klub 'n
riem onder die hart dat 'n openbare instelling soos Creative Arts New Zealand
deur hul borgskap eintlik ook morele ondersteuning en goedkeuring gegee het
aan die Afrikaanse gemeenskap om hul kultuur uit te stal en in die groter
(multi-kulturele) werklikheid van die Nieu-Seelandse samelewing uit te leef.
Ja-nee… Die potjiekos en bobotie het miskien al gesak, maar die herinneringe
van 'n vriendelike naweek van lekker kunsfees-hou sal lank bly draal…
terug na begin