KiwiKasie Kunstefees 2002
Mathys Roets hooftrekpleister by KiwiKasie
KiwiKasie stal trots van Afrika uit
KiwiKaskenades en Jurie Els
Trix Pienaar besoek Kiwiland

Argiewe

Jurie Els kom sing!

Die immergewilde Afrikaanse sanger, Jurie Els, se dagboek is tjokvol besprekings vir 2002. Tog het hy spesiaal plek gemaak om vir ons in Aotearoa, ofte wel "Die Land van die Lang Wit Wolk" te kom kuier.

Hy het as toeris deur Nieu-Seeland getoer en so baie gehou van wat hy sien, dat hy sommer vir hom eiendom hier gekoop het!

Om 'n gewilde sanger in Suid-Afrika te wees, klink dalk glansryk, maar dit het ook sy kwota nadele. Jurie het lekker vakansie gehou in Nieu-Seeland en meen dat dit nogal " 'n veran-dering" was om "anoniem" te wees. Nieu-Seeland se natuurskoon is vir hom asemrowend.

Volgens sy vriende in die Waikato, Willem Delport en Martin Hefer, is Jurie 'n vriendelike kêrel, baie plat op die aarde en sonder aanstellerigheid. Willem en Martin is van Nuweland Promosies en is ook die organiseerders van sy toer. Die
Afrikaanse Klub het 'n vennootskap met hulle gesluit om twee optredes in Auckland vir Jurie te reël en te promoveer.

Jurie hou van die pomp van adrenalien en voel dat hy sy brood op 'n spesiale manier verdien. Hy sê hy is versot op sy loopbaan en die vryheid wat dit hom bied. Hy wil nie "in 'n boksie gedruk" word nie.
Jurie het aanvanklik aan die Universiteit van Pretoria en Unisa vir onderwyser geleer, maar sy voorliefde vir ligte musiek het vinnig tot 'n verandering in sy lewensplanne gelei.
Hierdie veelsydige musikant was die eerste algehele wenner van SAUK TV se musiek-vasvra-program NOOT VIR NOOT in 1991. Hy het sy titel in 2000 teen die ander groot kampioene ver-dedig en 'n tweede plek behaal.

Jurie onthou talle onvergeetlike oomblikke in sy loopbaan. Met 'n rits treffers en stampvol sale het hy gou volksbesit geword.
Jurie geniet dit om mense te vermaak. Op die verhoog is hy energiek, maar hierdie karakter is ver verwyder van die ernstige man met die fyn humorsin wat hy eintlik is. Hy werk nou aan 'n boek wat hy skryf oor sy wedervaringe op toer.
Jurie het die lirieke vir meer as 500 liedjies op 50 verskillende plaaslike kunstenaars se albums geskryf. Hy is ook uitvoerende regisseur van verskeie kunste-naars se albums.
Jurie het vyf musiekvideo's die lig laat sien en ook vele TV-optredes gehad. Hy het al meer as 1000 optredes aangebied-'n aanduiding van sy gewildheid. Hierdie harde werk het gelei tot agt goueplaat- en vyf platinatoe-kennings! Hy is veral bekend vir sy optredes saam met Patricia Lewis.

Hierdie veelsydige sanger se tweede Christelike Album, "Verbly jou in die Here", is onlangs vrygestel. Uit-maar-Tuis vertrou dat die toer wat Nuweland Promosies vir Jurie reël 'n groot sukses sal wees.

Jurie Els tree op 22 Junie op in die North Shore. Hy gaan ook op ander dorpe in Nieu-Seeland optree. Nuweland Promosies het laat weet dat die voorlopige datums vir Jurie se toer soos volg is:
27 Junie 2002 - New Plymouth, Richard Marais, tel: (06) 769 9201 / rebmarais@xtra.co.nz
29 Junie 2002 - Wellington, Kobus Faber 04 526 8441 / kowil.faber@xtra.co.nz
3 Julie 2002 - Napier ( Nog nie bevestig nie)
5 Julie 2002 - Whangarei, Karin de Beer jgdebeer@clear.net.nz
6 Julie 2002 - Hamilton, Willem Delport willemd@clear.net.nz / 07 854 3622

Mense buite Auckland moet Die Afrikaanse Klub se weeklikse Brokkies (e-nuus-brief) dophou vir inligting oor dié optredes.
                                            terug na begin

  ontwerp deur :: mari
opgedateer :: jan 2003