KiwiKasie Kunstefees 2002
Mathys Roets hooftrekpleister by KiwiKasie
KiwiKasie stal trots van Afrika uit
KiwiKaskenades en Jurie Els
Trix Pienaar besoek Kiwiland

Argiewe

kyk na die fotos van hierdie besonderse dag

KiwiKasie Kunstefees 2002

‘n Entoesiastiese gehoor van bykans 700 het Mathys Roets luidkeels teruggeroep... Hy moes sy laaste aangrypende lied, Koos du Plessis se “Gebed” met ‘n toegif verseël. Dié rekord-getal teenwoordiges het ‘n professionele vertoning ervaar soos min.

Sommige Afrikaanssprekendes wat al jare lank in Nieu-Seeland woon, was eers huiwerig om kaartjies te koop omdat hulle “die man dan nie ken nie”. Gelukkig het hulle die Afrikaanse Klub se oordeel – en aggressiewe promosieveldtog - vertrou en opgedaag.

Min sou hulle voor die tyd kon raai dat ‘n “balladesanger” soos Mathys Roets so goed ontvang en geniet kan word. Die ultra-professionele teater van die City Impact Church in Browns Bay, Auckland, met sy twee reuse-videoskerms en puik klankstelsel, het ook daardie ekstra “oemf” verskaf.

Toe Mathys klaarmaak, het daai staande ovasie en dawerende waardering boekdele gespreek... Sy optrede was beslis die hoogtepunt van die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se KiwiKasie Kunstefees van 2002.

In die voorprogram is vier uiteenlopende items aangebied. Die “Kwêla-dansgroep” met hul “Shosoloza”-dans was baie gewild. Dit is merkwaardig dat drie Kiwi’s, lede van die South African Supporters Club hier in Nieu-Seeland asook lede van die Afrikaanse Klub –volwassenes en kleintjies - saamgespan het om dit aan te bied.

‘n Groot pluimpie moet gaan aan een van die Afrikaanse Klub se Bestuurskomiteelede, Carel Broekman, wat met sy kreatiwiteit en goeie aanvoeling daarin geslaag het om hierdie uiteenlopende groepie tot so ‘n eenheid saam te snoer. Die gehoor het hul bydrae terdeë geniet.

So was daar ook twee susters, Janine Nel en Zonia Fourie met pragtige Afrikaanse sang. Janine het haar eie komposisie “Geen regrets nie” gesing, terwyl sus Zonia geantwoord het met Laurika Rauch se “Neanderdalman”. Hul duet “Reën” het hul vertoning mooi afgerond.

Marinda de Villiers, Auckland se eie Afrikaanse sopraan wat al vyf jaar hier woon en gereeld by en namens die Afrikaanse Klub optree, het ‘n puik bydrae gelewer met haar "KiwiKasie-FAK-Keurspel". Sy het ook vir die eerste keer haar eie komposisie "U dogter onthou" gesing. En natuurlik kon sy nie wegkom nie; die organiseerders wou opsluit hê dat sy afsluit met die gewilde Maori-lied “Pokarekare Ana” in Maori, Engels en Afrikaans (haar vertaling).

Die laaste item op die voorprogram is gelewer deur AfriCapella, ‘n splinternuwe onafhanklike groep van sewe Suid-Afrikaanse mans wat hul a capella verwerking van “Al lê die berge nog so blou”, “Factory” en “Mangoane Mpulele” gesing het. Laasgenoemde Afrika-liedjie het aan hulle hul eerste openbare “encore” besorg!

Vroëer op dieselfde dag het KiwiKasie se “Rimpelfees” plaasgevind. Dit is die groot feestelikheid wat ontwerp is om ‘n sterk multi-kulturele komponent te bevat, om die Afrikaanssprekende aan die breër gemeenskap bekend te stel, en ons mense blootstelling aan die ryke verskeidenheid om ons te gee.

Hierdie geleentheid het uiters goeie mediablootstelling voor die tyd gehad, asook ‘n volbladfoto-artikel in die North Shore Times na die tyd. Die opskrif “KiwiKasie Festival a feast of cultures” het uitgebasuin dat dit kan groei tot ‘n trotse item op Auckland se kulturele program.

Sowat 2,000 mense het die dag se Rimpelfees bygewoon. Mense het gesmul aan eg-Suid-Afrikaanse kos, deur die stalletjies en kunswerkwinkels gesnuffel en die veertiental groepe kunstenaars baie geniet.

Die burgemeester van North Shore City, sy edele mnr. George Wood het die fees amptelik geopen. In sy toespraak het hy ‘n lansie gebreek vir Die Afrikaanse Klub en die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskappe in Auckland. Hy het sy waardering uitgespreek vir die inisiatief van die Klub om die geleentheid aan te bied en die breë gemeenskap so te betrek. Hy het afgesluit dat dit ‘n goeie voorbeeld is van ‘n kultuurgroep wat daarin slaag om sy kultuur op ‘n gesonde, positiewe manier uit te leef en met ander te deel.

‘n Hoogtepunt was die boere-orkes onder leiding van Nico Smit. So ook die “Pacific Island”-dansgroep, wat met hul polsende tromme en hul dames se wikkelende Suidsee Eiland-heupe man en muis aangetrek het. Hulle en ander kultuurgroepe soos die Indiese en Engelse “Maypole”-dansers het die gehoor ook betrek en mense die fyner kunsies geleer.

Die klassieke Spaanse ballet het bygedra tot die verskeidenheid van die Rimpelfees. Dan praat ons nie eens van die rustige Russiese klanke nie, soos voortgebring deur Lorinda en David Erasmus!

En natuurlik het die nou reeds bekende “Streetlevel” ‘n heerlike grondslag van moderne jazz-musiek gelewer, met ‘n goeie dosis Afrikaanse volksliedjies daarby – weliswaar opgejêzz! Later in die dag het twee jong manne ook gewys wat in hulle steek: Dewald Kritzinger en Renier Lee het die gehoor getrakteer op lekker Afrikaanse en ander Afrika-klanke.

Bykomend tot die KiwiKasie Kunstefees het die Afrikaanse Klub ook vir die eerste keer 'n kunsuitstalling aangebied. Die Trots van Afrika / Pride of Africa kunsuitstalling het in sy drie weke lange leeftyd by Suid-Afrikaners en die Kiwi-gemeenskap baie byval gevind. Verskeie puik SA-kunstenaars is hierby betrek, waaronder George Boys.

Die ander kunstenaars was Annemie du Plessis, Naomi Herholdt, Jules Kesby (van Zimbabwe), Dalene Meiring, Elsabe Pretorius, Ula Rademeyer, Estel Slabbert, Anton van den Bergh and Jean van Staden.

Argiewe:Vorige artikels


                                                 terug na begin

  ontwerp deur :: mari
opgedateer :: mrt 2003