Mathys Roets hooftrekpleister by KiwiKasie
Mathys
Roets van "Drie van die Beste"-faam kom kuier in Oktober in Kiwiland. Dis
'n feit… Talle Afrikaanse Kiwi's is reeds baie opgewonde omdat dié gewilde
sanger spesiaal na Nieu-Seeland gebring word om as die hoofkunstenaar by Die
Afrikaanse Klub se KiwiKasie op 5 Oktober op te tree.
Maar wie is Mathys Roets en waar kom hy vandaan? Mathys het matrikuleer aan
die Hoërskool Reitz in die Vrystaat. Reeds van jongs af speel musiek 'n belangrike
rol in sy lewe. In st. 1 begin hy klavier speel en in st. 6 trompet. Behalwe
vir die skoolkoor was sing nie op sy spyskaart nie. In st. 7 word hy vir die
eerste keer aan 'n kitaar blootgestel en sy pa moes bontstaan om hom die basiese
akkoorde te leer. "En as ek nou terugkyk," sê Mathys, "dan moet ek sê dis
hier waar alles begin het, want ek kon myself nou begelei."
In 1982 bied die SAUK 'n kompetisie aan met die naam "Tikkel Tokkel". Sy inskrywing
vir die kompetisie was 'n tuisgemaakte kitaar. Sy eerste plek het ook sy eerste
TV-debuut verseker toe hy vir 'n volle twintig sekondes moes demonstreer dat
sy kitaar werklik bespeel kan word. In st. 9 en 10 wen hy beide die eerste
plek in die Oos-Vrystaat se kadetkompetisie vir solotrompet. Hy matrikuleer
in 1984 en word vir diensplig opgeroep, waar hy in die SAGD-orkes beland en
voltyds trompet speel. Sang was toe nog nie op die horison nie.
Later het hy by Technikon Pretoria ingeskryf om Elektriese Ingenieurswese
te swot. Dís waar sy musiekloopbaan regtig afgeskop het. Tydens dié jaar speel
hy trompet vir die Technikon Simfonieorkes en sluit hy by die "Rondomtalies"
onder leiding van Koos Lessing aan. En toe maak hy sy solo verhoogdebuut met
"Kaleidoskoopland". "Dit was die keerpunt in my musiekloopbaan," sê Mathys,
"want skielik kom ek agter mense luister as ek sing!". In die volgende jaar
was hy dan ook SAUK-Debuut-finalis met "Kaleidoskoopland".
In 1988 skryf hy by Tukkies in vir die graad B.Sc. Plant- en Dierkunde. Vir
eksta geld sing hy in die TRUK Adhoc Operakoor. En toe tref hy Pretoria se
restaurante met sy sang in 1989 - eers net naweke, maar later sewe aande per
week. In 1992 het hy in 'n laboratorium begin werk met die idee om sy sangloopbaan
snags voort te sit. Hoewel dit vir hom 'n belangrike fase in sy ontwikkeling
was, wou hy verder groei. En toe kom die "bevryding" in 1994 toe hy 'n Crescendo-finalis
was met Koos du Plessis se liedjie, "Skielik is jy vry". So het sy sangloopbaan
momentum gekry.
In 1995 bied hy 'n vertoning van Koos du Plessis se liedjies aan. Hy het saam
met Anneke Coetzer aan die musiek gewerk. Hoe meer vertonings hulle gelewer
het, hoe meer het die gehore se reaksie hulle oorweldig, en net daar besluit
hulle toe om 'n CD met die naam "Nokturne" op te neem. Die eerste oplaag van
500 was gou uitverkoop. So gewild was die CD dat mense selfs na hom verwys
het as "Koos Roets". In 1996 het hy vir die eerste keer aan die Klein Karoo
Kunstefees deelgeneem. Hulle het "Nokturne" met groot sukses aangebied en
later die jaar by die Grahamstad Kunstefees 'n nuwe vertoning gedoen: "The
Songs of Leonard Cohen". Hierdie vertoning was 'n reusesukses met al sewe
vertonings uitverkoop. "So het die bal aan die rol gekom en aangehou rol",
onthou Mathys.
Sy tweede CD, "A Life in Song", tref die mark in 1997. In die tussentyd vorm
Mathys, Kevin Leo en Danie Niehaus "Drie van die Bestes". Hul CD verkoop soos
soetkoek en hul gekombineerde vertonings word baie gewild. Na 'n baie lang
droogte waarin Mathys geen nuwe CD's bekend gestel het nie, verskyn "Brug
na êrens" aan die begin van 2000 - weer 'n reusesukses. Mathys besluit toe
maar om die golf te ry en reik "Hy's ons man" aan die einde van 2000 uit waarop
hy sy aanhangers behoorlik bederf met lewendige opnames. "Hy's ons man" is
baie naby aan goue status.
Verlede jaar was Mathys te sien in sy vertoning "Sielskaaf". Die lirieke en
musiek hiervan vind diep in mens se siel weerklank. Sê Mathys: "Veral die
getoonsette gedigte van Elizabeth Eybers en Antjie Krog skaaf aan plekke in
jou siel waar jy dit die minste verwag." Meer onlangs het Mathys op die Aardklop
Kunstefees in Potchefstroom 'n Nederlandse vertoning gelewer.
Ou Mathys, ons Afrikaanse Kiwi's sien daarna uit dat jy bietjie aan ons "siele
kom skaaf"! Sien jou op 5 Oktober…
Vir navrae, skryf aan Die.Afrikaanse.Klub@clear.net.nz of skakel (09) 478
2291.
