KiwiKasie stal trots van Afrika uit
Die Afrikaanse Klub se KiwiKasie Kunstefees word vanjaar een stewige
trap hoër geneem met 'n drie weke lange kunsuitstalling by The PumpHouse
Kunsgalery in Takapuna, Auckland, Nieu-Seeland.
Hierdie unieke uitstalling word vir die kuns- en nostalgiese genot van Suid-Afrikaners
aangebied, maar ons hoop dat dit veral by die breër Kiwi-gemeenskap byval
sal vind. Dit vorm deel van die Klub se Uitreikfokus, wat met ons Kunstefokus
vermeng word. Hierdie kunsuitstalling staan bekend as die "Pride of Africa"
Kunsuitstalling.
Dit open op 16 September en sal eindig op die naweek wanneer KiwiKasie sy
hoogtepunt bereik tydens die hooffees van die kunstefees en op Sondag,
6 Oktober vanjaar. Die galery se ure is van 10.00 tot 3.30 (Maandag
tot Vrydag) en van 2.00 tot 4.30 op Sondae.
Ontmoet die kunstenaars:
Jules Kesby is in 1974 in Zimbabwe gebore. Hoewel sy in Australië
skoolgegaan het, het sy in 1996 na Afrika teruggekeer waar sy begin skets
het. Haar sketswerk is veral deur die Afrika-bosse en wildlewe geïnspireer,
maar sy het gou die behoefte ontwikkel om met kleur te werk. So is haar pastelwerk
gebore en sy het onlangs ook met olie begin verf. Haar tema is oorwegend wildlewe
in Afrika. Jules het aan talle groep-uitstallings in Harare deelge-neem. 'n
Aantal van haar werke is ook ingesluit in drie uitstallings wat deur die Innerspace
Gallery in Londen en Torquay gehou is.
Estel Slabbert is lief om kreatief met kleure en vorms te werk.
Sy het die Skone Kunste bestudeer. Estel het by die Intona Design Studio
in Johannesburg gewerk en daarna 'n studietoer deur Europa onderneem. As kunstenaar
het Estel ook by die Biblioteek en Museum Dienste in Pretoria gewerk. Estel
het in Suid-Afrika en in Nieu-Seeland kunsklasse aangebied. Sy was 'n lektor
in kleur en ontwerp by die Pretoria Technichon. Tans bied sy ook klasse aan
by die Mairangi Art Centre. Estel werk met verskeie media, maar is veral lief
vir syskermdruk ("screenprinting") en die verf van tekstiele. Haar werk weerspieël
passie, opwinding en spontaneïteit. Naomi Herold was nog altyd lief vir enigeiets
wat te make het met die kunste. Sy was nog altyd betrokke by suikerkuns en
blommerangskikking.
Naomi se skoonheidsdeskundige en mediese agtergrond het ook bygedra
tot haar skeppingsvermoëns. Sy werk veral met swart pensketse, potloodsketse
en pastelle. Haar werk is meestal abstrak, hoewel sy ook gedurende hierdie
uitstalling 'n Afrika-verwysingsraam-werk sal gebruik. Annemie du Plessis
beskou haar verfwerk byna as 'n obsessie, volgens haar eie woorde. Die fantasie
van kleur dra by tot haar kreatiwiteit. Keramiek- en tekstielverf het 'n belangrike
deel van haar kuns geword, maar sy geniet die uitdagings van verskeie media.
Annemie het 'n diploma in Beeldende Kunste met skilder as hoofvak.
Sy het vir vyf jaar lank klas gegee en nog elke jaar 'n kunsuitstalling gehou.
Haar werke by die PumpHouse Gallery versinnebeeld immigrasie. Die oue (SA)
en die nuwe (NS) word in haar werke ineengestrengel.
Ula Rademeyer het haar Honneursgraad in grafiese ontwerp
by Tukkies behaal. Sy het al vir promosie-, advertensie- en webontwerp-maatskappye
gewerk. In Nieu-Seeland het sy ook rekenaar-sketse vir patentregistrasies
gedoen. Sy was in 2001 verant-woordelik vir die programgrafika vir 'n firma
se programontwikke-ling. Die program het hiermee die eerste prys losgeslaan
in Micro-soft se Digital Dashboardkompe-tisie. Die ontwikkelaar was Dan Retief.
Ula werk met verskeie media, maar geniet veral 2D/3D-animasie gekombineer
met video. Ula werk tans as ontwerper by 'n maatskappy wat werk vir kliënte
uit 25 verskillende lande en sluit in groot name soos die All Blacks, Americas
Cup, Sydney Olympics en Warner Brothers.
Anton van den Bergh skilder al vandat hy ses was. Hy het by die
Johannesburgse Kuns-skool gestudeer voordat hy sy mediese studies voltooi
het. Hy is ook 'n vlieënier. Sy werke kombineer Afrika se kultuur, natuur
en wildlewe. Hy geniet ook Nieu-Seeland se landskappe. Vir sy Suid-Afrikaanse
werke gebruik hy hoofsaaklik olieverf om 'n foto-realistiese effek te verkry.
Vir sy NS-landskappe gebruik hy gemengde media en veral pastelle om 'n bykans
naïewe beeld te verkry.
Elsabe Pretorius het Beeldende Kunste aan die Universiteit van
Stellenbosch bestudeer en daarna kuns gedoseer. Sy het meer as tien jaar
gelede haar belangstelling in keramiek begin navolg in die bekende Suid-Afrikaanse
pottebakker, Barbara Jackson, se ateljee. Elsabe se werk is al in Kaapstad,
Chicago en Auckland uitgestal. Haar werke spreek van 'n kreatiewe energie
en is definitief nie die gewone nie.
Jean van Staden (Steward) het die graad BA Beeldende Kunste in
Pretoria behaal en by verskeie instansies klas gegee in kuns en kunsgeskiedenis.
Sy het ook aan vele solo en groepsuitstallings in Suid-Afrika en Nieu-Seeland
deelgeneem. Jean se werk word beïnvloed deur die ryk tekstuur en berge van
die Oos-Vrystaat waar sy grootgeword het. Boesman-tekeninge op rotse en in
grotte het haar nog altyd gefassineer. Om die gees en atmosfeer van 'n landskap
vas te vang, is vir haar 'n groot uitdaging.
Dalene Meiring het die Skone Kunste aan UNISA bestudeer. Sy is
'n suksesvolle kunstenaar in NS en oorsee. Sy bring 3 style bymekaar:
land-skappe, figure en abstrakte werk. Hierdeur word mense, plekke en objekte
uit haar moederland, SA, uitgebeeld. Dalene se nuwe werk is abstrak, kleurryk
en harmonieus in vorm, wat haar individuele visie van die lewe uitbeeld.
Vir navrae, skryf aan Die.Afrikaanse.Klub@clear.net.nz of skakel (09) 478
2291.
terug
na begin
