Trix
se nostalgiese draai deur Nieu-Seeland
Een van Suid-Afrika se bekende persoonlikhede wat op TV, die grootdoek en
die verhoog bekendheid verwerf het, Trix Pienaar, het gedurende Februarie
2002 'n suksesvolle toer deur Nieu-Seeland se Noord-Eiland onderneem. Die
hoogtepunt van haar toer was haar optrede in die bekende PumpHouse Teater
in Auckland.
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland het besluit om vir Trix "uit te voer",
omdat geglo is dat sy iets kan bied wat vir die hele gesin goeie vermaak sal
wees.
Op Sondagaand, 24 Februarie het Die Afrikaanse Klub hul gala-aand aangebied
met 'n stewige voorprogram van vers en musiek. Trix se optrede was die kersie
op die koek. In haar heerlike storievertelling, "Kontreistories",
vertel sy met deernis, hartstog en plesier die verhaal van haar herkoms. Sy
skilder die interessante karakters van haar geliefde Swartland in 'n kwistige
aksent en taal.
Hierdie funksie het deel gevorm van die Multi-Cultural Society van Auckland
se multi-kulturele feesvieringe, aangesien Die Afrikaanse Klub by die Multi-Cultural
Society geaffilieer is. Mnr Ashok Darji, bestuurslid van die Society
het die program geopen en toegespreek. Hy het 'n pragtige boodskap van versoening
oorgedra.
Die Minister van Etniese Aangeleenthede, George Hawkins is by die
geleentheid verteenwoordig deur 'n Parlementslid, Anne Hartley, wat
'n toespraak van ondersteuning by hierdie Afrikaanse program gelewer het.
Hartley het in haar toespraak die regering se ondersteuning uitgespreek vir
die immigrant se behoefte om homself kultureel uit te leef. Sy het genoem
dat hulle begrip het dat sulke geleenthede baie help om die immigrant se emosionele
aanpassingsproses te vergemaklik en van immigrante gebalanseerde deelnemers
aan die Kiwi-samelewing te maak.
Om
haar en Darji te ondersteun in hul dapper sit deur 100 minute se Afrikaans,
het die Klub die hele program - ook Trix se stuk - in heelwat besonderhede
in Engels vertaal en vooraf aan hulle besorg. Dit het baie byval gevind en
het bygedra dat hulle ook groot dele van die program kon waardeer.
Die Aucklandse sopraan Marinda de Villiers haar talent uitgestal
met onder andere haar eie komposisies van digter Eugene Marais se gedigte
Dans van die Reën en Winternag. Sy is deur Carina Brits begelei.
Die twee van hulle het ook saam getoer en in die voorprogram vir Trix op die
toer opgetree.
Ook die knap violis, Thea Kotze van die Aucklandse Filharmoniese
Orkes, het in die voorprogram opgetree. 'n Groepie vrywilligers het in 'n
kort verhoog-produksie 'n huldeblyk aan Eugene Marais gelewer. Van Marais
se Engelse vertalings is ook tydens die huldeblyk voorgedra.
Op
haar toer deur die Noord-Eiland het Trix op verskeie dorpe die gehore
meegevoer. Sy het die groepies immigrante-sommige groentjies en ander hardebaarde-se
gedagtes deur die kontoere van die "wulpse landskap" van die Swartland gevoer.
Met humor en haar unieke manier van gesels het sy die gehore op heelwat nostalgiese
draaie geneem.
En dit is al wat haar heerlike, ryk storievertelling, Kontreistories bedoel
was om te doen. Dit was 'n helder fontein waar mense 'n bietjie soet herinneringe
kon drink. Wat ook heerlik was, was die teenwoordigheid van so baie Engelssprekende
Suid-Afrikaanse immigrante by die konserte op die toer.
Trix Pienaar was op Afrikaanse TV bekend vir haar rolle in Sonkring 1 en 2,
Veldslag, TJ Sewe, Suidpunt Hotel, Phoenix en Kie en meer. Dan was daar rolprente
soos Pappalap, Sarah en Herfsland. Sy het vir die laaste twee Oscars ontvang,
wat destyds in SA toegeken was. Sy was ook bedrywig op die verhoog.
En wie kan haar Bokomo-advertensie vergeet. Ja, die Weetbix-advertensie wat
vir 'n rekortyd van 14 jaar deur een persoon op die lug was!
Trix het opgetree op Whangarei, Tauranga, Rotorua,
Pukekohe, Wellington en twee keer in Auckland.
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se nuwe logo is ook bekendgestel tydens die geleentheid- lees meer.
