Jannie & Christa se “Doerondertoer” <<terug
- KiwiKasie 2003
- Rimpelfees wil jy deelneem?
- Hooffees met Jannie & Christa
- Meer oor Jannie en Christa <<
- KiwiKasie 2003 Borge
Jannie du Toit en Christa Steyn
(soos in UIT-MAAR-TUIS
Aug Uitgawe - pdf formaat)
Jannie
du Toit is op Heidelberg (Tvl.) gebore, hy voltooi laerskool by Grootvlei
en hoërskool in Pretoria. Na diensplig in die Lugmag studeer hy regte
by RAU.
Sy musiekloopbaan begin op universiteit as baskitaarspeler in 'n popgroep.
Hy word ook lid van TRILOGIE, ’n Afrikaanse folkgroep op vroeë
TV in SA.
Na voltooiing van die graad B. Iuris LL.B ondergaan hy sy leerklerkskap en
raak ook betrokke by die "luisterliedjiebeweging".
Hy reik sy eerste langspeelplaat, 'N LIEDJIE VIR JOU, in 1981 onafhanklik
uit. Liedjieaande elke Vrydagaand by sy huis in Pretoria, word na twee jaar
deur TRUK oorgeneem om as KERSLIG, VERS EN MELODIE lank 'n rol in Afrikaanse
musiek te speel.
Hy sluit ook aan by die AD LIBITUM-koor. Tydens 'n besoek van die koor aan
Amsterdam in 1979, hoor hy 'n langspeelplaat van Herman van Veen. Hierdie
Nederlandse kabaretmusiek of "klein-kunst" sou 'n besondere rol
speel in sy musiekloopbaan.
Musiekblyspel
As toegelate prokureur verlaat hy die regswese met die oog op 'n vryskutloopbaan
in musiek, maar hy word kort daarna deur UP as kultuurbeampte aangestel om
'n musiekgroep te stig en musiek vir hulle te skryf.
Tydens sy jare by Tukkies skryf Jannie onder andere die musiekblyspel OELOERAAI
saam met prof. Anna Neethling-Pohl, en GANSDANS - volledig
uit sy eie pen. Van dié twee aanbiedinge word ook langspeelplate gemaak
en sy eie tweede album, DRIE UUR IN DIE MôRE, verskyn in 1987. Hy werk
daarna
vir 'n jaar voltyds by TRUK as organiseerder van ligte musiek.
Intussen
bied hy in 1986 saam met Christa Steyn 'n program aan met die oog op Johan-nesburg
se Eeufeesvieringe. So ontstaan die revue BLIK EN SNAAR, wat groot sukses
in SA, Europa en op TV behaal het.
Op die kabaretverhoog debuteer hy in Stephan Bouwer se VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN
saam met Laurika Rauch, waarna OP DIE HARTSTOG BOULEVARD, AGTER DIE HORISON,
en DE KLEINE MAN ('n Nederlandstalige program saam met Christa Steyn) sou
volg.
In 1993 bring hy en Christa 'n huldeblyk aan Koos du Plessis op die planke,
naamlik SKADU'S TEEN DIE MUUR, in Suid-Afrika en die Lae Lande. Daarna kom
DIE DRAAI VAN DIE EEU en VAN BLIK EN SNAAR TOT WIE WEET WAAR (die viering
van tien jaar se verhoogvennootskap tussen Jannie en Christa).
Lg. twee programme asook SKADU'S TEEN DIE MUUR en DE KLEINE MAN is ook by
die Klein Karoo Kunstefees gesien.
Jannie se eie, onafhanklike verspreidingsmaatskappy, JNS MUSIEK ontstaan
in 1990. Bene-wens sy aandeel in SA-musiek, bedryf Jannie DIE AGTERPLAAS,
'n gastehuis in Jhb. Hy het ook oor die jare solo-albums uitgereik, soos PALET
in 1990 en VOLGENDE WINTER in 1994.
Christa en Lucas
Saam met Christa Steyn, Lucas Maree en Johann van der Watt het hy in die negentigs
die ATKV se liedjieskrywerswerkskool aangebied.
Op die oomblik is Jannie en Christa besig met 'n nuwe Nederlandstalige kabaret,
DE KLEINE MAN SPOORLOOS!, deur Ilse van Hemert en GELOOF, HOOP EN LIEFDE,
'n program van geestelike musiek (gebaseer op Jannie se GELOOF, HOOP EN LIEFDE
album) saam met die Cantate Kamerkoor en Andy en Murray
Lubbe. Hulle geniet hulle ook gate uit in die produksie GENERASIE GAAP NIE,
'n
program van gunstelingwêreldtreffers van die sestigs tot die negentigs
deur Liz Meiring.
Jannie en Christa is ook nog van tyd tot tyd te sien in die produksie MUSIEK
EN REPLIEK saam met Lucas Maree. 'n Inisiatief wat Jannie pas van stapel gestuur
het, is MUSART TRUST - 'n kunstesentrum in die Presidentsaal in Melville,
Jhb. Die hoofdoel is om werksgeleenthede en opleidingsgeleenthede aan kunstenaars
en leerlinge te verskaf.