Onthou die KiwiKasiedans Vrydag 3 Okt - Lees meer

KiwiKasie 2003 voorskou            <<terug


KiwiKasie Kunstefees bars uit sy nate!

As verlede jaar se 2,000 plus besoekers ‘n aanduiding is, beloof vanjaar se KiwiKasie Kunstefees om weer ‘n reusesukses te wees. Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland bied dit vir die derde agtereenvolgende jaar in Auckland aan.

Die Afrikaanse Klub van NS het weer die Afrikaanse Klub in Australië uitgenooi om saam te werk en die bekende musikante Jannie du Toit en Christa Steyn vanuit Suid-Afrika te laat kom en “met mekaar te deel”. Die gevolg is ‘n uitgebreide toer in beide lande wat teen die einde van September vanjaar in Australië begin en op 4 Oktober in Auckland afskop. Die Nieu-Seelandse toer eindig op 12 Oktober in Auckland.

KiwiKasie het drie komponente: Die multi-kulturele “Rimpelfees” deur die dag, die Afrikaanstalige aandkonsert met Jannie du Toit en Christa Steyn en hierdie twee talentvolle musikante se landwye “Doerondertoer” in Kiwiland. Hierdie uitbreiding van KiwiKasie maak optredes vir Jannie en Christa moontlik in Wellington, Napier en New Plymouth, en vir die eerste keer ook in Palmerston North en Christchurch.

Gesprekke tussen die East Coast Bays Community Centre en Die Afrikaanse Klub het gelei tot ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die twee organisasies wat daarop gemik is om ‘n beter, groter kunstefees vir die Noordoewer en Auckland te bied. Die fees trek reeds baie mense van dorpe soos Whangarei, Tauranga, Rotorua en Hamilton.

Die dag se Rimpelfees is geskep vir Suider-Afrikaners om uit te reik na die breër gemeenskap in Nieu-Seeland en om hulle ook aan die Suid-Afrikaanse kultuur en mense bloot te stel. Die Afrikaanse Klub moedig dan ook sy lede en ander ondersteuners aan om hul Kiwi-vriende, werkkollegas en bure uit te nooi om die dag by te woon. Verlede jaar was daar ‘n goeie toename in belangstelling en bywoning deur hierdie mense. Baie van hulle het die hele dag by die feestelikheid gebly en dit baie geniet.

Die meeste waarnemers is dit eens dat hierdie vlagskipprojek van Die Afrikaanse Klub ongelooflik baie doen om die Suid-Afrikaanse en spesifiek ook die Afrikaanstalige immigrant in Nieu-Seeland se beeld baie positief op te bou.

Danksy ‘n subsidie van $2,000 van Creative New Zealand, die staatsinstelling wat die kunste in Nieu-Seeland so bevorder, word die Rimpelfees se kunswerkwinkels uitgebrei. Dit is die tweede keer dat die Klub hierdie subsidie ontvang. Daar sal ook musiek-, dans- en sanggroepe van verskillende kulture optree.

Rimpelfees

Die kunswerkwinkels word – danksy bogenoemde staatsubsidie - gratis aangebied. Dit sal insluit kunswerkwinkels wat fokus op Japannese kwaswerk, strokiestekening, “ritmiese gemeenskapstromme” (waarby enigeen kan inval en saam lekker kan raas!), kleikuns, Hollandse geborduurde kaartjies, lapverf, drukwerk, “decoupage” op lap, Chinese lanternmaak, maskermaak en meer.

‘n Baie interessante multi-kulturele musiekprogram word op elke verhoog van die twee lokale aangebied. Feesgangers sal kan kyk, hoor en voel hoe die Afrikaanse en tradisionele ding gedoen word deur Auckland se eie Klopse, die Auckland City Dukes, ons eie boereorkes onder leiding van Nico Smit (wat vanjaar in die skoolsaal groter prominensie sal geniet), sopraan Marinda de Villiers, jongman Renier Lee asook die Lewende Woorde kerk se Jeuggroep wat sang en mimiek sal aanbied. “n Afrika-trommegroep sal hul kenmerkende ritmes van Suider-Afrika by die feesatmosfeer voeg.

Musiek en sang deur ander kulture sal insluit die Taiwannese dansgroep, ‘n Midde-Oosterse dansgroep en groepe van die Oekraïne, Sri Lanka, Spanje, Japan en die Filippyne. Dan is daar nog “American Cheerleaders”, Hollandse Klompedansers en ‘n Keltiese (Ierse) groep!

‘n Keur van Suid-Afrikaanse kos sal ook te koop wees, waarvan boereworsrolle, kerrie en rys en pannekoek beslis op die spyskaart is! Ten minste. Ek meen te sê …
Lees meer hier ...

Ons borge

Ons is ons borge baie groot dank verskuldig. Dit word baie waardeer dat hulle ook op hierdie wyse in hul eie gemeenskap belê. n Hele rits borge ... lees meer.

Waar en wanneer ?

Saterdag 4 Oktober se Rimpelfees begin om 10.30vm en sal voortduur tot 3nm. Toegang is GRATIS. Deelname aan die kunswerkwinkels is ook gratis. Die fees vind plaas by die Northcross Intermediate School in Sartors Avenue, Browns Bay, Auckland. Die skoolsaal en sy aangrensende reuse-gimnasium word hiervoor aangewend. Weens die uitreikaard van die Rimpelfees sal die taalmedium meestal Engels wees, hoewel Afrikaans ook van die verhoog af gebruik sal word.

Kaartjies vir die aand se Afrikaanse hoofkonsert in die gebou van die City Impact Church in East Coast Road, Browns Bay, Auckland kos $18 per volwassene en $10 per skoolkind. Hierdie konsert begin om 6.30nm en word in die Afrikaanse taalmedium aangebied.

Navrae oor die Rimpelfees, die Afrikaanse Hoofkonsert asook Jannie en Christa se optredes elders in Nieu-Seeland, kan gerig word aan die Feesorganiseerder, Erika Langenhoven, by tel. 478-2991, of by philipl@free.net.nz

Bly ingelig...

Bly ingelig deur by die volgende adres te versoek om op die klub se weeklikse e-nuusbrief “Brokkies” ingeskskryf te word: die.afrikaanse.klub@clear.net.nz (Versoek net “Brokkies asseblief!”). Al hierdie ontwikkelings word in “Brokkies” vermeld.


‘n Hele rits goeie borge sê JA vir KiwiKasie!

Ankerborge

Hoofborge

Ondersteunende Borge



                                     terug na begin

  
opgedateer :: des 2003