Oujaarsdans
Kersdag braai
KiwiKasie2003
Afrikaanse Skryfkompetisie
Winterdans
Kuns-op-Rym Kompetisie
Fliek:Klara Viljee
Dagstap:Okura-staproete
Verskeidenheidskonsert

Argiewe

lees hier

Afrikaans word “multikulturele gom” met KiwiKasie

Die derde KiwiKasie Kunstefees is verby…
Dit was die grootste nog, en dit was ‘n FEES!

Jannie du Toit en Christa Steyn het 850 mense na die Afrikaanse Hoofkonsert getrek en ‘n rekordgetal van ongeveer 3,000 mense het die multikulturele Rimpelfees (die “dagfees”) bygewoon.

Die Rimpelfees deur die dag was heel uniek. Behalwe vir mooi groei en ‘n eerste gelyktydige bedryf van twee verhoë, het ‘n tradisionele boereorkes die een verhoog gedeel met Taiwannese dansers en ‘n Midde-Oosterse dansgroep. Die dag is ook geopen met ‘n Maori powhiri (‘n amptelike, tradisionele Maori-verwelkoming).

Die ander verhoog in die aangrensende skoolgimnasium het die res van die verskeidenheid uitgestal: Afrikaanse sangers en Afrika-tromme is vermeng met die briljante vertonings van ‘n jong Kiwi-vrou met haar trekklavier, Koreaanse, Filippynse en Japannese dansers asook ‘n vertoning deur ‘n Maori kapa haka-groep. Gou was daar nie ‘n plek vir ‘n muis by die hoofverhoog nie, want die gewilde Cook Island-dansgroep met hul luide suidsee-tromme en grasieuse, heupswaaiende vrouens en kinders het al wat leef en beef aangetrek!

Die nuwe vloeruitleg van die hooflokaal het verseker dat die uitgebreide kunswerkwinkels beter tot hul reg gekom het. Die werkwinkelaanbieders is tot ‘n uur na die amptelike toemaaktyd besig gehou deur kunshonger feesgangers, wat geleer is om allerlei kreatiewe dinge te maak, soos mooi papier, maskers, strokiesprente, Japannese kwaswerk, groetekaartjies en meer.

KiwiKasie is voorwaar gevestig as die Noordoewer van Auckland se grootste multi-kulturele kultuur- en kunstefees. Danksy ‘n aggressiewe bemarkingsveldtog deur Die Afrikaanse Klub in die plaaslike media en deur uitstallings in biblioteke, is die dagfees deur die meeste Kiwi’s nog bygewoon. Hulle het natuurlik ook geleer om boerewors te eet en goeie boereorkesmusiek te waardeer. Hoewel die meeste aankondigings in Engels gedoen is – weens die uitreik-aard van die fees – is baie Afrikaans ook vanaf die verhoë gebruik.

Gedurende die aand – by die Afrikaanse Hoofkonsert - het 850 mense die konsert-ouditorium volgesit om te luister na die briljante Jannie du Toit en Christa Steyn. Hul humoristiese aanslag met “die tannie” – Christa, natuurlik! - het die gehoor laat kraai van plesier. Dit was duidelik dat Jannie en Christa se jare lange verhoogvennootskap van hulle ‘n fyn afgeronde vermaaklikheidspaar gemaak het. Ook het hul professionaliteit en diepte die mense aan die einde van die aand op die voete gehad met twee luide “encores”.

Jannie het in ‘n verrassende stap die plaaslike AfriCapella Mannesanggroep vooraf uitgenooi om sy “Gee ons vrede”, met Dona Nobis Pacem as onderbou, saam met hulle te sing. Dit was vir die ses manne van AfriCapella ‘n groot voorreg om saam met Jannie en Christa op die verhoog te verskyn. Hierdie lied is twee keer gesing.

Jannie se konsert is voorafgegaan deur ‘n vol voorprogram van Afrikaanse talent in Auckland. Hieronder was die nuwe Umoya Vrouesanggroep. Hierdie dertien dames het ‘n keur van Afrikaanse liedjies op briljante wyse gesing. Dit was hul “nooiens”-optrede. Annelien Piechazek het ook ‘n mooi stukkie drama gedoen, wat met hierdie sanggroep se optrede geïntegreer is.

Ook het ‘n groepie lawwe vriende die eerste Afrikaanse volksliedjie wat op Nieu-Seelandse bodem geskep is, gesing. “Japies” is deur Janine Nel van Auckland geskryf. Hierdie spot-met-onsself-groep het onder die naam “Vaaljapies” opgetree in ‘n styl geïnspireer deur die Grafsteensangers in Suid-Afrika. Hul optrede het baie byval gevind en die gehoor aan die lag gehou.

Ook het Nieu-Seeland se eie Klopse, die Auckland City Dukes, weer hul bydrae met ‘n energieke vertoning gelewer. Janine Nel het daarna eers saam met Waciela Carr en toe saam met Renier Lee duette gesing – ook haar eie skeppings. Die manne van AfriCapella het die voorprogram afgesluit met “Ons Vader”, “Long long ago”, “Tula Tula”, ‘n keurspel van Afrikaanse volksliedjies en “Mangoane Mpulele”.

Jannie en Christa het ook ‘n geslaagde toer na vyf ander sentra in Nieu-Seeland onderneem. Verrassend groot gehore het hulle verwelkom in Napier, New Plymouth, Wellington, Christchurch en Palmerston North.

Wat die klub ook jaarliks pro-aktief rondom KiwiKasie doen, is om die ontstaan van nuwe Afrikaanse sang- en dramagroepe te stimuleer. Die Klub het dikwels die idee vir ‘n groep, hulle kry die belangstellendes bymekaar en fasiliteer hul ontstaan. Die Klub verskaf ook die platform waarvandaan hierdie groepe hulself kan ontwikkel en vestig. Hulle tree dan op by die Klub se projekte en in die Kiwi-gemeenskap.

Hiermee ‘n baie groot dankie aan al die borge wat gehelp het om die fees ‘n sukses te maak: AI Financial Services, Creative NZ, The Old Villa Dental Centre in Hamilton, Nautilus Financial Services, Speedy Signs (Takapuna), Stationery World Direct, Seaviews Guest House, Fred’s Fine Foods en Annique NZ.

Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland het vanjaar sy mees ambisieuse poging nog aangebied en volgens die terugvoering was dit ‘n dawerende sukses. En ja, Afrikaans het waarlik die gom tussen die kulture in Nieu-Seeland begin word!



                                     terug na begin

kyk na die fotos van hierdie besonderse dag

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: apr 2005