KiwiKasie 2003 - Rimpelfees            <<terug


"RIMPELFEES" Vol Vars Talent

Kom leer om soos 'n Maori die kapa haka te doen! Ja, dis een van die GRATIS werkwinkels! Dit en BAIE meer vind plaas by KiwiKasie se "Rimpelfees" op
4 Oktober van 10.30vm tot 3nm op die perseel van die Northcross Intermediate School, Sartors Avenue, Browns Bay, Auckland.

'n Vrek lekker Rimplelfees sal met sy, mens kan maar sê "Nama-laslappierok van kulture", 'n belewenis soos min bring... Kom beleef die passie, kleure, klanke, danse en tale van ander kultuurgroepe wat hierdie mooi land met ons deel. Ons het groepe van Taiwan, Korea, Shebah Midde-Oosterse Dansers met "bellydancing", Kenia, Sri Lanka, Viëtnam, Europa, Maori, Cook Island en ook van die Kiwi-kultuur.

Die Lewende Woord Gemeente het ook twee jeuggroepe wat ons kom verras. Kom gesels met die mense van die ander kulture en sien hoe hulle dit waardeer as jy uitvra oor hul tale en kultuur. Kom proe-proe, kuier-kuier!
En dis GRATIS! Bring jou Kiwi-vriende. Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland het hierdie geleentheid geskep sodat ons kan uitreik na die Nieu-Seelanders om ons.

Kom eet jou trommeldik aan Oom Fred van Fred's Fine Foods in Oteha Valley Road, Albany, se lekker boerewors, die Lewende Woord gemeente se koffiehuis en kerrie en rys en die Die Afrikaanse Christen Kerk se pannekoek. Die SA Caffee bring allerlei snoepgoed, geskenkitems en ander verrassings. Die kinders kan lekker taai kom word met die spookasem. Die meer gewaagdes kan kom proe aan die manne van Napier se mampoer!

Volwassenes en kinders kan hulle hand kom waag aan al die pasella kunswerkwinkels. Die kunswerkwinkels sluit onder andere in: "Henna Art", maskermaak, strokiesprent-teken, Ritzie Heyns met haar kleigietwerk en Japannese kwaswerk en Geraldine Pieterse met haar papierkuns. Kom geniet die uitstallings van die jong Afrikaanse seun-kunstenaar Ludwig Wendtzig asook van Selvan Dharmalingua, wat albei 'n passie het vir SA-wild soos die Groot Vyf. Daar sal ook allerlei interessante stalletjies met klere, geskenke, Afrika-krale, juwele, ens. wees. Daar sal ook gewone stalletjies wees, soos die met klere, Indiese lap, serpe, juwele, Afrika-krale en Afrika-geskenke, ens.

 

Neem deel aan die Rimpelfees dagprogram

Danksy ‘n finansiële borgskap van Nieu-Seeland se staatsinstelling,
Creative Arts
, kan die Klub vanjaar sekere kunstenaars betaal om kunswerkwinkels te kom aanbied. (lees ook wie is ons ander borge)
Die organiseerders sal bepaal watter kunsvorms vir hierdie subsidie sal kwalifiseer, aangesien die fonds beperk is en nie lukraak vir enige belangstellende aangebied kan word nie.

As jy kunstalente het (bv. decoupage,mosaïek, lyfverf (body painting), handwerk, balonnekuns, kalligrafie, “gemors-tot-mode”, skilderwerk, ens. skryf asb. aan
Skryf in die opskriflyn (subject line) “Kunswerkwinkel”, “Kunsuitstalling”, of “Besigheidstalletjie”, “Musiekitem”, na gelang van die geval. Vermeld dan in die epos jou belangstelling, meer inligting oor jou kunsvorm of optrede en kontakbesonderhede (ook telefoonnommer, verkieslik nie selfoon nie).


                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: apr 2004