Oujaarsdans
Kersdag braai
KiwiKasie2003
Afrikaanse Skryfkompetisie
Winterdans
Kuns-op-Rym Kompetisie
Fliek:Klara Viljee
Dagstap:Okura-staproete
Verskeidenheidskonsert

Argiewe

kyk na die fotos van hierdie besonderse dag

Dagstap : Okura na Stillwater : 15 Maart 2003


Van Tarzan, Tui’s en Tobie-voëls

Sowat van variasie beleef ‘n dagstapper nie elke dag nie... Dis op en af, kronkel en reguit stap. Dis ruie kuswoude met reuse-boomvarings en Tarzan wat maar net nie wil opdaag nie. Daar is die ooptes met stukke blou seewater van die seemonding.

Ook die gesing van Nieu-Seeland se Tui-voëltjies, vermeng met die onophoudelike geruis van die cicadas (met mooi Afrikaanse name soos sonbesie, boomsingertjie, nuwejaarsbesie of singbesie) maak die dagstap van Okura na Still Water spesiaal.

Dit alles is net ‘n hanetree vanaf Auckland - slegs vyf kilometer buite die mees noordelike voorstad van Auckland. Dit is waar Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland hierdie ervaring aangebied het.

Die weer was baie goed vir die dertigtal stappers wat die drie uur lange staptog aangepak het. Dit was eintlik perfekte stapweer, want die sonnetjie het sy kop weggesteek gehou en die 23 grade celcius het baie genade op half-onfikse lywe uitgespoel.

Nadat bekendes mekaar gegroet en nuwe vriende aan mekaar voorgestel is, het die stap begin te midde van ‘n briljante skouspel van kleure wat deur die Kowhai en Clematis voorgesit is. Die Tui’s se serenadesang het baie luister aan hierdie vertoning gegee.

Die staproete begin by die Haigh Access Road-kant van die roete. Sommer gou is ons die rivierbrug oor om by die wonderwêreld-langes-die-stad uit te kom. Die opdraandpad het ons omtrent onmiddellik omsingel met Nikau, Pohutakawa en groepies jong Kauri-boompies. Die voetpaadjie het aangehou kronkel deur die bome en plek-plek aan ons vlugtige kykies gebied op die rivier wat uiteindelik ‘n mond na die see toe vorm. Ons kon sien hoe mense hul kajak op die ander oewer gereed kry vir hul eie wegbreek-lekkerte.

So ‘n halfuur of wat later het ons by die riviermond se oewer asem geskep, waar steltvoëls en oestervangers (ook genoem tobie-voëls) sigbaar was.

Hierna was dit weer opdraande aanstoot, verby ‘n ou Maori Pa (woonplek). Die paadjie loop hiervandaan weer oor heelwat op- en afdraandes, maar danksy puik voetpaadjies en met hout-versterkte bane teen steilerige hange, was die gevolglike moeg-gevoel gou een van genoeglike tevredenheid.

So het ons eindelik die uitgestrekte Karepiro Baai bereik. Dit was duidelik die “driekwart-rusplek”. Ons gaan sit toe by die geskiedkundige Dacre Cottage, waar ons onsself met allerlei vrugte en ander verkwikkinge vir die res van die pad versterk het.

Hierdie historiese, eenslaapkamer baksteenhuisie is in die 1850’s vir skeepskaptein Ranulf Dacre gebou. Dit was later vervalle tot dit eers in 1963 deur die Historiese Plekke Vereniging “gevind” en gerestoureer is.

Van hier af was dit die finale trek na die eindbestemming – Still Water. Hoewel die groep die langer roete bos- en berglangs kon neem, is besluit dat die plat kusroete oor die rotse, al met die landhoof langs, gevolg sou word. Buitendien sou dit ‘n goeie kontras vorm met die vorige woud-been, al sou ons nie die hoër roete se uitsig oor die indrukwekkende Hauraki Gulf se seetoneel kon waardeer nie.

Ons het vooraf gelees dat ons springende visse in die Weiti Rivier – naby die einde - te wagte kon wees, maar dit was ons nie beskore nie.

En dalk was die feit dat ons redelik moeg was die rede dat almal nie die afgekampte voëlnes-gebied net voor Still Water gesien het nie. Die skugter voëls het buitendien hul bes gedoen om weg te kruip.

Uiteindelik –te gou – het die sprokieswêreld opgehou. Ons het by die klein vissermansgehuggie Still Water klein-piekniek gehou met wat in die rugsakke oor was. Hier het een vertelling tot grappies gelei, en kort voor lank was dit tyd om te groet.

Almal was dit eens dat dit ‘n gulde geleentheid was om ons kinders in gesonde gesinsverband te betrek en dat dit weer gedoen moet word. Dalk doen ons dit volgende keer in Waitakere (in die weste van Auckland) of in die suid-ooste van die stad.



                                                 terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: apr 2005