Oujaarsdans
Soos die tradisie dit nou eenmaal wil hê, het Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland
sy besige jaar met 'n "Oujaarsdans" vir gesinne afgesluit. Bykans 300 siele
- oud en jonk - het weer op oujaarsaand bymekaar gekom en die wye verskeidenheid
musiek van Albert geniet.
Van langarm tot jive, van wals tot ruk-en-rol en van wieg tot jongmens-kotteljons
was aan die orde van die dag. En nie lank nie, of die gebruiklike "Birdie
song" en "Zorba" het almal soos een man (vrou en kind) op die baan gehad,
in 'n groot sirkel of twee.
Lees meer hier
Kersdag braai vir gesinne
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland bied elke jaar ‘n Kersdagbraai
aan vir mense wat net ‘n bietjie ver van hul familie in Suid-Afrika
af voel. Vanjaar het ‘n veertigtal siele so bymekaargekom. Sommige was
met mekaar bekend, maar nuwe vriendskappe is ook gesmee. Hoe heerlik was dit
nie om op so ‘n pragtige kleinhoewe, in Auckland se natuurprag, te kon
ontspan, ‘n vleisie op die kole te gooi en die kinders te sien speel
asof hulle oppie plaas is. En die feit dat dit om 12-uur die dag begin het
en dat die eerste persone eers in die omgewing van 7nm vertrek het, is ‘n
aanduiding van hoe almal mekaar se nabyheid en ondersteuning geniet het.
Baie dankie aan Johan en Esme Janse van Vuuren dat julle jul huis weer ‘n
keer vir hierdie doel oopgestel het. Jammer ons is so laat daar weg! foto
Afrikaans word “multikulturele gom” met KiwiKasie
Die derde KiwiKasie Kunstefees is verby… Dit was die grootste nog, en dit was ‘n FEES!
Jannie du Toit en Christa Steyn het 850 mense na die Afrikaanse Hoofkonsert getrek en ‘n rekordgetal van ongeveer 3,000 mense het die multikulturele Rimpelfees (die “dagfees”) bygewoon.
Lees meer hier
'n Dans word vir die eerste keer by KiwiKasie aangelê!
KiwiKasiedans! Ja, vir die eerste keer bied Die Afrikaanse Klub van NS 'n
dans aan as deel van die KiwiKasie Kunstefees.
Dit gebeur om 7nm op Vrydagaand, 3 Oktober by die Torbay Community
Hall (agter die Torbay-winkels in Beach Road, Torbay, Auckland).
Carla van der Kooij is die klub se Bestuurskomiteelid wat die dans vir die
klub koördineer. Dit is die geleentheid vir mense wat van ver af kom vir KiwiKasie
om saam met die Aucklanders litte op die dansvloer los te maak. Komaan julle
Aucklanders, kom ons laat die besoekers tuis voel! Bring jou eie eet- en drinkgoed.
Die toegangsfooi is $5 per persoon 16 jaar en ouer. Die deure maak om 7:00nm
oop. Sien julle daar!
Sop-en-Vetkoek Winterdans
Die Afrikaanse Klub se Winterdans het onlangs plaasgevind, met lekker sop
en vetkoek daarby. Nou dat alle verlore soppot-deksels weer by hul base uitgekom
het en die sokkiejolstof gaan lê het, is dit die organiseerder, Marius Rothmann
en sy geagte "assistant", vroulief Lydia, se behoefte om groot dankie te sê.
(Eintlik moet iemand vir Lydia bedank vir die wonderlike wyse waarop sy die
kombuis- en ander reëlings getref het!)
Eerstens 'n grote aan Deon Thuynsma en sy vrou Stephanie en ander helpers
in die kombuis. Maryke en Cornel van Rooyen het 'n ongelooflike bydrae gelewer
deur eiehandig 500 vetkoeke te bak! G'n wonder ons het hulle nie die Vrydagaand
of Saterdag gesien nie! (Ons weet nou ook waar om lekker vetkoekdeeg te koop,
Maryke!)
Dan was daar talle mense wat gehelp het met die maak van sop en skoonmaak
van die saal. Ook dankie aan Carla van der Kooij en Leonie Peters vir die
flinke bediening by die ontvangstafel. Baie dankie ook aan Albert Bredenhann
vir die lekker musiek en almal wat dit saam kom geniet het.
Van die Kiwi-maats wat saam met mense gekom het, het genoem dat dit vir hulle
'n eerste, maar baie aangename ondervinding was om aan 'n dansfunksie deel
te neem waar oud en jonk dieselfde dansvloer deel. Die uitdaging met so 'n
dans is dat 'n verskeidenheid van musiek vir alle smake aangebied moet word,
sodat almal 'n beurtjie kan kry. Dit was goed om te sien hoe almal op "mekaar
se musiek" probeer dans het.
KiwiKasie 2003 se Afrikaanse Skryfkompetisie
Die Afrikaanse Klub van NS loods hiermee sy eerste Afrikaanse Skryfkompetisie.
Alle kinders, tieners, en volwassenes word uitgenooi om deel te neem.
Daar is meer as $1,000 se prysgeld op die spel. Die sluitingsdatum
is
15 September 2003.
Lees meer hier
KiwiKasie 2003 se Kuns-op-Rym Kompetisie
Hier’s ons kinders se kans om hul kunstalente te ontgin! Lees die strofe uit ‘n bekende Afrikaanse rympie en teken wat jy “ sien ” !
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland begin vanjaar met ‘n nuwe inisiatief,
as deel van die klub se jaarlikse KiwiKasie Afrikaanse Kunstefees,
wat op
4 Oktober 2003 in Auckland plaasvind.
Lees meer hier
en laai inskrywingsvorms af.
Was sommer 'n lekker fliek!
En toe was Saterdagaand
(10 Mei 2003) se fliek-inne-huis groot pret! So 'n veertigtal mense het die
huis van Annelien en Richardt Piechazek van AI Financial Services
volgesit, gesit-lê en gelê en die ou Afrikaanse fliek "Die Storie van Klara
Viljee" terdeë op die grootskerm geniet.
Almal was dit eens dat dit 'n baie goeie fliek was. Sommige aanwesiges het
dit al jare gelede in goeie ou Suid-Afrika gesien, terwyl ander nog net daarvan
gehoor het. En dit was lekker! Soos een persoon opgemerk het: "Dit was net
soos 'n goeie Franse kunsprent". 'n Ander het gesê "die kwaliteit van die
toneelspel en tegniese aspekte was opvallend. En nog een: "Daar was 'n heerlike
balansering tussen hartseer en vreugde, tussen humor en erns". En toe verras
Richardt almal met een van sy bobaas-kokstreke: 'n volstruisbredie! Einste
hier in Kiwiland! Ag, dit was vingerlek... Baie dankie nogmaals aan die Piechazeks
vir hul gasvryheid.
Dagstap : Okura Staproete
15 Maart 2003 was 'n heerlike stapdag. Sowat 30 dappere stappers, oud en
sommer baie jonk het die staproete saam met die Afrikaanse Klub aangepak.
Kliek hier vir al die aksiefotos.
Na die roete het ons 'n welverdiende mini-piekniek by Stillwater geniet en
as finale afsluiting vir die dag vinnig gaan inloer by die Stillwater Seiljag
klubhuis.... Lees meer
Verskeidenheidskonsert
Kyk na die foto's
en lees later mees oor die Auckland
City Dukes.
argiewe terug na begin
