Oujaarsdans
Kersdag braai
KiwiKasie2003
Afrikaanse Skryfkompetisie
Winterdans
Kuns-op-Rym Kompetisie
Fliek:Klara Viljee
Dagstap:Okura-staproete
Verskeidenheidskonsert

Argiewe

kyk na die fotos van hierdie besonderse dag

Verskeidenheidskonsert: 30 Jan 2003

Klopse vestig Kaapse kultuur in Kiwiland

Interessante plek dié Nieu-See-land... Klein landjie iewers onderaan die laaste ronding van die aarde, voor jy die koue suidelike see - die laaste bolwerk voor Antarktika - kry.

Ons Suid-Afrikaners kom soek vrede, werk, veiligheid, geleenthede... Ook opwindende uitdagings en nuwe ervarings. En dié groen land van prag en orde bied ons juis dít. So kan duisende getuig.

Deesdae is daar hoeka iets aan die groter kant van 30,000 Suid-Afrikaners wat hulle reeds in Kiwiland gevestig het. Ja, dis toe veel minder as die wille gerugte van “50,000 net in Auckland”, aldus die jongste nasionale sensus, wat twee jaar gelede afgehandel is. Dié het mos bevind dat toe net meer as 26,000 Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland gewoon het.

In teenstelling met wat halwe navorsers soms dink voor hulle hierheen emigreer, is hierdie nie ‘n eentalige, monokulturele land nie. Sommiges wil dit graag glo, maar mense besef algaande dat Nieu-Seeland se bevolkings-profiel dramaties verander. Volgens die jongste sensus word bykans 200 tale hier gepraat!

Dit is opmerklik dat SA-immigrante al meer bereid is om nuwe kulture te leer waardeer. Wat inspirerend is, is dat Suid-Afrikaners vanuit verskillende agtergronde na mekaar begin uitreik. Hoewel hierdie tendens seker nog verdere spontaniteit verdien, is daar tog ‘n groeiende toegeneëntheid sigbaar.

Een hoofstuk in hierdie verhaal het hom afgespeel met die onlangse ontstaan van Auckland se eie “Kaapse Klopse”. Twee entoesiastiese “oud-Klopse” vanuit Kaapstad, Riedewaan Waggie en Faizel Kippie het met Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland begin gesels oor hul planne om ‘n Klopsegroep in Auckland te begin. (Kyk UMT - Des. 2002)

Al het die taak eers te groot gelyk om gou te implementeer, was die twee vriende se passie aansteeklik. Die Afrikaanse Klub het saam met hulle na oplossings vir hul uitdagings gesoek en antwoorde is saam-saam gevind.

Die gevolg? Die Afrikaanse Klub was bevoorreg om hierdie groep, die Auckland City Dukes, se eerste konsert te reël. Die gehoor het die grappe, danse en bekende liedjies baie geniet. Die geleentheid is sommer aangegryp om ‘n aantal jong talentvolle Afrikaanse kunstenaars in die Verskeidenheidskonsert se voorprogram te laat optree.

Jurie Els (op besoek aan NS) het twee liedjies bygedra, waarna plaaslike talent opgetree het.
Jonge Tilana de Villiers, dogter van sopraan Marinda de Villiers, het met “O die liewe Martatjie” diep in die hart gekruip.
Net so het Carla van der Kooij, bestuurslid van die Klub, twee pragtige liedjies van Laurika Rauch gesing.
Dewald en Renier was soos gewoonlik baie gewild. Hul drie Afrikaanse liedjies was briljant.
Die sewe mansstemme van AfriCapella het met “Al lê die berge”, “Factory” en “Mangwane Mpulele” weer ‘n baie goeie ontvangs gehad.

En toe die Dukes... Man, lekker was dit lekker!
Dié samewerking met die Auckland City Dukes het daarna gelei tot die hul optredes by ‘n groot stads-mardi gras en by die Auckland Multi-Cultural Society se fees. Hierdie groot groep (bykans 60 lede) was uiters gewild. So is ‘n unieke stuk Kaapse kultuur voor waarderende Kiwiskares onherroeplik in Nieu-Seeland gevestig. Al was dit grootliks in Afrikaans...

Maar dit is wat Nieu-Seeland aan mens doen. Die tafel word vir ons gedek om in unieke omstandighede menseverhou-dinge te laat gedy. En die omgewing se ondersteuning-stelsels laat dit op geduldige wyse gebeur.
Al wat ons moet doen, is om gehoor te gee aan hierdie roepstem van die silwervaring.



                                                 terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: apr 2005