Vaardige vingers en goue stemme by grootste KiwiKasie
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se vierde KiwiKasie Fees, met DRIE sangers van Suid-Afrika en 'n hele rits Afrikaanse talent van Nieu-Seeland, is agter die rug. Die ultra-lang Afrikaanse konsert is deur meer as 800 mense bygewoon en volgens die terugvoering het die konsertgangers die breë verskeidenheid baie geniet.
Die bekende sangers Coenie de Villiers en Karla du Plessis was die hoofkunstenaars. Karla is die dogter van wyle liedjie-maestro, Koos du Plessis. Hul vertonings is met 'n verfrissende jongmens-vertoning deur Esti van Rooyen aangevul. Coenie en Karla is spesiaal deur Die Afrikaanse Klub vanuit na Nieu-Seeland gebring. Dit was vanuit 'n finansiële oogpunt die mees ambisieuese KiwiKasie wat nog deur die Klub en sy vrywilligers aangebied is.
Esti is deur Graham Oosthuizen na Nieu-Seeland gebring, om by die Out of Africa-fees in Howick op te tree, wat op dieselfde dag as KiwiKasie plaasgevind het. Sy het sommer die geleentheid benut om by KiwiKasie op te tree.
Hoewel Coenie weens werkverpligtinge nie deur Nieu-Seeland kon toer nie, was Karla du Plessis gelukkig hiervoor beskikbaar, en het 'n baie suksesvolle toer deur die Noord-Eiland gevolg. Hierdie optredes by New Plymouth, Palmerston North, Wellington en Napier, is deur Die Afrikaanse Klub gefasiliteer en deur plaaslike organiseerders aangebied.
Maar dit was nie net oorsese sangers wat uitgestal is nie, want verskeie plaaslike kunstenaars, wat al voorheen by KiwiKasie opgetree het, het aan die nuwe Pasella-konsert buite die konsertlokaal opgetree. Hierdie gemeenskapsverhoog is gratis en "pasella" aangebied vir mense wat buite gewag en saamgekuier het voordat hulle die saal kon binnegaan. Terselfdertyd is boereworsrolle en ander verversings verkoop en het 'n ligte feesatmosfeer geheers.
Mense wat vooraf nie eintlik Coenie se musiek geken het nie, maar tog uit ondersteuning van die vrywilligers se poging die funksie bygewoon het, sê dat hy hul stoutste verwagtinge oortref het met sy intelligente humor, puik verhoogpersoonlikheid, vaardige klaviervingers, kenmerkende stem en wonderlike musiek en lirieke. Coenie het voorwaar baie nuwe aanhangers bygekry en feitlik al sy CD's is uitverkoop. Ons is nie seker of Coenie met hierdie vergelyking sal saamstem nie, maar mense noem hom glad Suid-Afrika se "Elton John".
Net so het Karla 'n heerlike vertoning aangebied. Haar verskeidenheid liedjies, ritmes en tempos is baie goed ontvang. Ook haar optredes by die ander sentra op die Noord-Eiland is puik ondersteun en mense het tougestaan om haar CD's te koop. In Wellington was die konsert glad uitverkoop!
Karla is oral waar sy gekom het, beleef as 'n spontane, beskeie mens. Mense was geraak dat sy haar pa, wyle Koos du Plessis, se nagedagtenis respekteer deur van sy liedjies te sing. Die gehoor het ook haar eie liedjies baie geniet. Haar repertorium het - net soos Coenie s'n - deur verskillende style gerinkink.
Die jonge Esti van Rooyen van Port Elizabeth is kort vooor KiwiKasie ingesluit vir enkele nommers. Sy het veral die jongmense bekoor met haar moderne, polsende Engelse en Afrikaanse liedjies.
'n GROOT word van dankie moet gaan aan die organiserende komitee onder leiding
van Wilna Joubert, die plaaslike talent vir al die optredes tussen-in en veral
die Klub se borge, wat alles moontlik gemaak het.
Die borge is: AI Financial Services, van Richard
Piechazek (Ankerborg), Dr. Henk Eksteen, Tandarts
van Hamilton (Hoofborg) en drie ondersteunende borge, Stationery World,
Glenvar Gastehuis en Charis Counselling.
Terwyl al die vrywilligers van Die Afrikaanse Klub nou asem skep, begin idees
oor volgende jaar se vyfde KiwiKasie reeds vorm aanneem, maar dis te vroeg
om daaroor te spekuleer!
argiewe terug na begin
