Leeswedstryd
KiwiKasie 2004
Afrikaanse boekrak
Winter Dans
Kookwater Dans

Hunau Falls

Argiewe

“Balke toe” in Kiwiland (21 Junie 2004)

Die Kookwater Dans het toe gebeur. En dit was balke-toe-lekker. Sowat 150 Afrikaanse Kiwi’s het op 29 Mei vanjaar bymekaar gekom en op die Kookwater Boere-orkes se heerlike ritmes geskoffel dat dit klap. En dit alles hier in Kiwi-land!

Die ritmes en klank was soms op-en-wakker, soms meesleurend, maar dit was suiwer en ge-olie en het oud en jonk op die dansbaan gehad. En die hoogtepunt van ‘n aand vol hoogtepunte was dalk die feit dat daar so baie tieners was.

Die organiseerders - Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland - het vooraf in sy e-pos nuusbrief, “Brokkies”, goed voorbrand gemaak en aan die intekenaars vertel dat die aand se musiek gebalanseer sal word met tradisionele boere-orkesritmes en kontemporêre klanke. Dit het die jongklomp aangetrek. Dit was nie lank nie, of die tieners het nie net gesit en wag vir die “moderne” klanke se beurt nie. Hulle het sommer maar ingeval wat…

Die gevolg was ‘n ge-“twostep” en ‘n ge”jive” soos jy nie altyd by so ‘n dans sien nie. En dan het daar ‘n paar Kiwi’s ook kom leer om die ding te doen. Ewe stywebeen-stywebeen is hulle om die dansbaan, met baie geduldige Suid-Afrikaanse meisies en –vriende wat die pas probeer aangee het. Maar die Kiwi’s het darem op ‘n manier geleer hoe hierdie langarm-biesigheid dan nou eintlik werk.

En het die dansers nie die Kiwi’s aan die einde van die aand toegejuig omdat hulle so dapper tot aan die einde probeer het nie! (Natuurlik sal ons nooit skryf dat onse Kiwi-vrinne darem nog ‘n paar lesse nodig het en dalk nie nou al hul beroepe vir die van professionele dansers moet verruil nie! Dit sal da’m maar alte lelik van ons wees!)

Die Kookwater Boereorkes se oorsprong lê al so ver terug as 1998, toe Nico Smit gevra is om by ‘n funksie te speel. Eintlik het hy alleen gespeel, maar die grondslag is gelê. Tans bestaan die groep uit vyf lede. Hulle is Nico Smit, die stigter op konsertina en trekklavier, Okkie Davel op die baskitaar, Johan Myburgh en Daniel Nel op ritme-kitaar en Beau Compton op banjo. Charles Hendrik help gewoonlik met die klank.

Die orkes het sy naam gekry nadat hul deelname aan die Klub se KiwiKasie Kunstefees in “Brokkies” as ‘n “kookwater-optrede” beskryf is. Net daar het die manne die woord as hul naam aanvaar en “Nico Smit en sy Boere-orkes” het die “Kookwater Boere-orkes” geword.

Met hierdie dans het Die Afrikaanse Klub probeer om die behoefte te bevredig van mense wat voel dat die Klub se gebruiklike Winterdans en Oujaarsdans nie genoeg boere-orkesmusiek aanbied nie. Met hierdie goeie ondersteuning mag die “Kookwater Dans” dalk ‘n jaarlikse instelling word.

Klik gerus hier vir al die foto’s van die geleentheid.





argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: apr 2005