Lentedans
Museum Projek
Prof. van Coller
Steve Hofmeyr
Oujaarsdans


Argiewe

Steve Hofmeyr: Die note sterf stadig weg…                              Foto's hier

Steve Hofmeyr se populariteit was baie duidelik in New Zealand toe meer as 1,400 mense in Julie Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se twee KiwiKasie-konserte in Auckland bygewoon het. Voeg daarby ‘n rekordbywoning van 500 mense in Hamilton en uitverkoopte vertonings in Christchurch en Wellington, met puik bywoningstalle in Tauranga, Palmerston North en New Plymouth en die toer kan met sekerheid as ‘n reuse-sukses bestempel word.

Na meer as ‘n dekade in die kollig en albumverkope van by die 800,000 eenhede, is Steve Hofmeyr ongetwyfeld ‘n suksesverhaal. Wanneer hy nie sing nie, speel hy toneel en wanneer die akteur ‘n blaaskansie neem en die skrywer neem oor, skryf hy poësie en komponeer hy liedjies. Die meeste van die liedjies op Steve se albums is oorspronklike werk (Engels of Afrikaans).

Hofmeyr se CD “Gewildste Treffers II” het reeds goue status in Suid-Afrika behaal. Sy verhoogproduksie “Beautiful Noise - A Tribute to Neil Diamond” het 260 sale in Suid-Afrika propvol gemaak en die CD met dieselfde titel het reeds 100,000 verkope verbygesteek. Geen wonder nie dus dat Hofmeyr seker die gewildste manlike populêre sanger in Suid-Afrika is!

Vanjaar, in die vyfde jaar van KiwiKasie, het Die Afrikaanse Klub teruggekyk op ‘n lang, lekker pad sedert ons eerste fees. Lucas Maree was ons eerste gaskunstenaar. Daarna het Mathys Roets, Jannie du Toit en Christa Steyn, Karla du Plessis en Coenie de Villiers gevolg. Vanjaar het ons vir Steve Hofmeyr hier gehad!

Dit het al tradisie geword dat die Klub ‘n verskeidenheidskonsert voor ons gaskunstenaar se optrede aanbied. Vanjaar het van die beste Afrikaanse musikante in Auckland weer die verhoog bestyg as deel van die voorprogram van die twee KiwiKasie-vertonings. Die Klub glo met hierdie benadering dat ‘n waardevolle platform geskep word vir ‘n verskeidenheid van Afrikaanse plaaslike talent om bekend te word en te ontwikkel.

Dit sluit in die Klub se eie produksies met plaaslike vrywilligers wat jaarliks tydelik vir KiwiKasie op die been gebring word, asook optredes deur groepe en individue soos die talentvolle Dewald Kritzinger, AfriCapella (a capella mannesanggroep), Umoya (a capella vrouesanggroep), Marinda de Villiers (sopraan), Janine and Daniël Nel, Gawie Cloete, André de Wet en vele meer.

Vanjaar het daar juis weer ‘n nuwe jong ster op die toneel verskyn: Frikkie Senekal het met sy briljante en lewendige kitaarspel wonderlike ondersteuning aan Dewald Kritzinger gebied. Dewald het die gehoor omtrent op die voete gehad met sy “Musikale Skemerkelk” - ’n polsende keurspel van nuwe Afrikaanse liedjies met Loslappie (van Kurt Darren), Patel, Tussen jou en my lê daar 'n berg (van Dozi) en Die trein na Margate toe. Die dawerende reaksie van die gehoor het boekdele gespreek…

Steve Hofmeyr was die agtste Afrikaanse kunstenaar wat deur Die Afrikaanse Klub na Nieu-Seeland gebring is. Hierdie was die Klub se mees ambisieuse projek, aangesien agt vertonings vir Hofmeyr in sewe Nieu-Seelandse stede gereël is. Die Afrikaanse Klub het die Hofmeyr-toergroep se internasionale vlugkostes met die Afrikaanse Klub van Australië gedeel. Hofmeyr het na die Kiwitoer ook vier vertonings in Aussieland aangebied.

Die Nieu-Seelandse toer is moontlik gemaak deur die goeie samewerking tussen Die Afrikaanse Klub en ander ondersteunings-organisasies en kerke met Suid-Afrikaanse lidmate in Nieu-Seeland. Dit sluit in die Afrikaanse Christen Kerk van NS (Hamilto-gemeente), die Reformed Church of Kapiti-Mana (Afrikaanse diens in Wellington), die South African Club in Tauranga en SINZASA in Christchurch. Twee individuele vrywilligers het ook hul gewig ingegooi: Richard Marais in New Plymouth en Ilse Boessenkool in Palmerston North.

Maar waarom doen Die Afrikaanse Klub dit alles? Die Klub se vrywilligers is mense wat die passie het om ’n “watergat” aan Suider-Afrikaanse immigrante te bied waar mense soms ’n stukkie emosionele versterking kan kom skep, sodat ons weer “kan aangaan”. Soos iemand dit opgesom het: “Dit is maar al rede.”

Die projek is deur verskeie borge geborg. Die volgende maatskappye was Ankerborge:

Baie dankie aan hierdie borge – almal in Suid-Afikaners se besit – asook aan die Ondersteunende borge, naamlik Stationery World Direct, Charis Counselling en Glenvar Gastehuis. Die Klub sê ook ‘n groot dankie aan alle helpers wat die Bestuurskomitee gehelp het om die projek aan te bied. Sonder julle bystand sou dit nie moontlik gewees het nie.

So kom alle goeie dinge tot ‘n einde. Steve Hofmeyr was hier en hy het weer gegaan. Sy note het weggesterf, maar sy ritmes sal lank bly rondhang…





argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: feb 2006