Lentedans
Museum Projek
Prof. van Coller
Steve Hofmeyr
Oujaarsdans

Argiewe

Speel saam vir dié venster na die toekoms

– ‘n Wedstryd vir Suid-Afrikaners –

klik op foto's


Suid-Afrikaanse immigrantegesinne word uitgenooi om aan ‘n wedstryd deel te neem waardeur hulle ‘n bydrae sal lewer tot die Auckland Museum se restourasie. Die wedstryd bied ‘n geleentheid aan SA-immigrante om hul ontluikende geskiedenis in ons aangenome Kiwiland op simboliese, maar tog ook tasbare wyse te dokumenteer.

‘n Mede-ondersteuningsgroep van Die Afrikaanse Klub van NS, naamlik die South Africa New Zealand Charitable Trust (SANZ) het hulle verbind om $25,000 (oor ‘n tydperk van 5 jaar) tot die “With a View to the Future”-projek by te dra. Die doel hiervan is om te help om die omvangryke restourasie van die Auckland War Memorial Museum moontlik te maak. Elke bydraende organisasie (of groep organisasies soos in ons geval) se naam sal op een van die 3 meter-hoë vensters om die nuwe koepel gegraveer word.

SANZ het die ander ondersteuningsorganisasies in Nieu-Seeland uitgenooi om saam met hulle aan hierdie projek te werk en daarvan ‘n kollektiewe Suid-Afrikaanse poging te maak. Die Afrikaanse Klub van NS asook die Rainbow Nation Supporters Club het albei SANZ se uitdaging aanvaar en die drie organisasies het ‘n gesamentlike werkgroep op die been gebring. Ongeveer $9,000 is reeds aan die saak belowe en die werkgroep beplan opwindende sosiale gebeurtenisse (kollektief en as individuele organisasies) om verdere fondse in te samel.

Die Auckland Museum sal ‘n pragtige, beperkte oplaag gedenkboek laat druk waarin die naam en geskiedenis van elke bydraende organisasie of immigrantegroep vir die nageslag verewig sal word. Hierdie boek sal ook ‘n aantal gesinne se verhale bevat van waarom hulle na Nieu-Seeland en Auckland gekom het en hoe hulle hul lewens hier ingerig het.

Die werkgroep nooi alle Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland uit om in hierdie nuwe stuk geskiedenis te kom deel, deur hul gesin se verhaal van hul hervestiging in Nieu-Seeland baie kortliks te deel. Die beste inskrywings sal vir insluiting in die gedenkboek oorweeg word onder die opskrif ‘South Africans in New Zealand’ – ‘n mooi stukkie geskiedenis wat geboekstaaf sal word.

Maar presies waartoe sal die oorhoofse poging bydra?

‘n Asemrowende koperkoepel sal uitkyk oor die nuwe “Grand Atrium”, wat bo-op die Museum se interne binnehof gebou sal word. Dit sal die klassieke profiel van die gebou afrond.

Die suidelike ronde binnehof sal in ‘n vierverdieping-ontwikkeling omsluit word. Dit sal broodnodige openbare ruimte beskikbaar maak vir ‘n ouditorium, ‘n leersentrum en ‘n spesiale uitstalsaal. Twee ondergrondse vlakke sal die Museum in staat stel om versamelings - wat voorheen elders gehou moes word - op die perseel aan te hou.

Die Afrikaanse Klub van NS is trots om saam met SANZ en die Rainbow Nation Supporters Group in hierdie historiese ontwikkeling van die Auckland Museum betrokke te raak. Dit is vir die Klub ‘n voorreg om ons ondersteuning van die projek op kreatiewe en tasbare wyse te verewig, vir toekomstige generasies om ons nuwe Groot Trek halfpad om die wêreld te onthou.

Die Afrikaanse Klub moedig graag ons lede en Afrikaanse gemeenskap aan om deel te neem aan die wedstryd en aan ons aktiwiteite wat ten doel het om fondse vir die projek in te samel. (Let op die knap sluitingsdatum vir die wedstryd!)

Die Wedstryd

1. Enige Suid-Afrikaanse immigrantegesin in Nieu-Seeland mag deelneem.
2. In 100 woorde, formuleer jul beste persoonlike ondervinding(s) en beskryf wat jou gesin die meeste waardeer met betrekking tot jul hervestiging in Nieu-Seeland. Bydraes moet in Engels geskryf word.
3. Stuur jou inskrywing per e-pos aan George Deeb, by deebgad@xtra.co.nz (met ‘n kopie aan philipl@free.net.nz)
4. Verskaf jou naam, adres en telefoon-kontakbesonderhede asook jul datum van aankoms in Nieu-Seeland.
5. Sluitingsdatum: 30 September 2005.

 

argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: feb 2006