Lentedans
KiwiKasie 2006
Winterdans
Top 20 treffers


Argiewe

Afrikaanse Kiwi’s wys hul gewildste Afrikaanse treffers aan

Die immergewilde Afrikaanse liedjie Kinders van die Wind is deur Afrikaanse Kiwi’s aangewys as hul top Afrikaanse liedjie van alle tye. Koos du Plessis se weergawe het Laurika Rauch se weergawe van dieselfde lied met ‘n kortkop geklop.
Kort op “Kinders” se hakke was Steve Hofmeyr se gewilde Pampoen, Gé Korsten met die romantiese Liefling van weleer en Stuur groete aan Mannetjies Roux van Laurika Rauch.
Hierdie resultate was die gevolg van ‘n versoek aan Afrikaanssprekende lesers van “Brokkies”, Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se weeklikse e-pos nuusbrief, om hul mees gewilde Afrikaanse musiektreffers van alle tye aan te wys. Afrikaanstalige treffers van enige era kon beoordeel word.
‘n Baie goeie reaksie is ontvang, hoewel sommige van ons ouer lesers laat weet het dat hulle sou verkies het om die saak eerder as “treffers” per dekade” sou wou benader het, omdat hulle dit baie moeilik gevind het om onlangse treffers met treffers van dekades gelede te vergelyk.
Desondanks het die Afrikaanse Kiwi’s hul sê gesê.
Die vyfde plek is gedeel deur Sweef soos ‘n arend (Danie Niehaus), ’n Liedjie vir jou (Jannie du Toit), Droomvrou (Lucas Maree) en Lisa se Klavier (kunstenaar nie vermeld nie, hoewel die liedjie oorspronklik deur Koos Kombuis geskryf en gesing is).
Die volgende vyf plekke is ingeneem deur Beautiful in Beaufort-Wes, ‘n liedjie geskryf deur Gert Vlok Nel, soos gesing deur Theuns Jordaan, Blou Bul (Steve Hofmeyr), Dis ‘n land (Carike Keuzenkamp), Duitswes Wals (Randall en Koba Wicomb) en Hoeka Toeka (Carike Keuzenkamp).
Plekke 11 tot 20 word ingeneem deur Jantjie (Sonja Herholdt), Maak die Bulle almal Bokke (Steve Hofmeyr), Royal Hotel (David Kramer), Ska-Rumba (Juanita du Plessis), Skipskop (David Kramer), Sprokie vir ‘n Stadskind (Koos du Plessis), Voshaarnooi (Louis van Rensburg), Al lê die berge nog so blou (Johannes Kerkorrel), Kinders van Afrika (Lochner de Kock & Richard van der Westhuizen) en Hak hom Blokkies (David Kramer).
’n Paar interessante keuses was Die dapper muis (Carike Keuzenkamp), Die gezoem van die bye (Des en Dawn Lindberg), Die wiel van geluk (Min Shaw), Hier is ‘n mens (Gé Korsten), Hillbrow (Johannes Kerkorrel), Hoor jy my stem (Rina Hugo), Rugbyonthaal (Leon Schuster), Vanaand gaan die volkies koring sny (Scallibrak) en Liewe Lulu (Blackie Swart).
Een leser het sommer sy Top 20 aangebied (al is net die Top 5 gevra) en AL 20 posisies aan net een liedjie gewy: Maak die Bulle almal Bokke van Steve Hofmeyr! Hy is duidelik ‘n rugbygeesriftige…
Hiermee bedank Die Afrikaanse Klub graag alle deelnemers aan hierdie pretwedstryd. Die wenners sal in “Brokkies” aangekondig word.

argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: aug 2006