Ontmoet ons nuwe ANKERborg


Marius de Lange is by baie Afrikaanse Kiwi’s bekend.
Verlede jaar was ‘n uitsondering, maar Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland bied reeds vir agt jaar sy gewilde KiwiKasie aan. Ons is dankbaar vir al die wonderlike borge – almal besighede in Afrikaanse Kiwi’s se besit – wat telkens hierdie Afrikaanse musiekgeleentheid moontlik help maak.
Dit is vir die Klub ‘n voorreg om die Ankerborg van vanjaar se KiwiKasie – SAFE – aan Brokkies-lesers bekend te stel. SAFE (South African Financial Empowerment Ltd) is ‘n internasionale finansiële, beleggings en trusteediens-onderneming, met verteenwoordiging in Auckland, Wellington, Sydney, Johannesburg, Durban en Kaapstad.
Bekende gesig betrokke
Vir Aucklanders is die bekendste persoon in hierdie dinamiese onderneming waarskynlik Marius de Lange, ‘n man wat met sy innemende persoonlikheid en professionele en kundige aanslag baie respek afdwing. Marius het vir ‘n hele klompie jare in Auckland as rekenmeester sy eie praktyk bedryf, en hy het vroeër ook in ‘n Aucklandse geoktrooieerde rekenmeestersfirma gewerk. Dan was hy in ‘n stadium ook by Nieu-Seeland se belastingdepartement as belastingondersoeker werksaam. Hy ken dus van wette, syfers en belastings, soos iemand lakonies opgemerk het.
“Ons het sewe persone in ons span, en ons werk vanuit ses kantore, so een swaeltjie maak nie die somer nie,” lag Marius beskeie toe Brokkies hom vir ‘n onderhoud vaskeer.
Indrukwekkende SAFE-dienste
Wanner ons hom vra wat SAFE doen, noem hy ‘n klomp finansiële dienste op, wat insluit die oordrag van fondse tussen lande, internasionale trusteedienste, rekordherwinning en vele meer.
“Voornemende immigrante raak baie gefrustreerd as hulle sukkel om geld (soos erfgeld) uit Suid-Afrika te kry, maar ook wanneer hulle sukkel om belangrike dokumente soos geboortesertifikate en skoolsertifikate in die hande te kry. Buiten ons breë reeks finansiële dienste lewer ons selfs op hierdie gebied ‘n diens aan immigrante, maar mense moet besef dat ons nie ‘n bank is nie.
“Ons SAFE-belofte is om aan Suid-Afrikaners oral ter wêreld met ‘n gesofistikeerde, betroubare onderneming te bedien, waardeur hulle hul finansiële welsyn kan verseker. Ons belofte strek van die geboorte van mense se emigrasiedroom tot en met die verwesenliking van hul persoonlike en finansiële aspirasies in verafgeleë lande,” verduidelik Marius.
Massiewe kontantborgskap
En hoe voel hy oor SAFE se status as KiwiKasie se Ankerborg, met ‘n massiewe kontantborgskap ter waarde van $2,500?
“Ons beskou dit as ‘n eer om as Ankerborg van KiwiKasie op te tree. Met hierdie borgskap sê ons graag dankie aan almal wat ons dienste tot dusver gebruik het, en ons dink dit is gepas om die geld in daardie mense se kultuurgemeenskap terug te ploeg.
“Laat ons nie die bydrae van Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland vergeet nie. Hierdie dinamiese organisasie werk deur sy vrywilligers al vir ‘n dekade om Afrikaanse Kiwi’s op sosiaal-kulturele wyse te ondersteun. Ons borgskap gee ook aan die Klub erkenning vir sy groot bydrae deur die jare – byvoorbeeld deur hul harde werk om KiwiKasie vir ons mense aan te bied,” sê Marius.
Opgewonde oor Jannie Moolman
Marius het ook sy opgewondenheid oor die keuse van die sangers vir vanjaar se KiwiKasie – Jannie en Annake Moolman – uitgespreek. Hy doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om die drie konserte (in Auckland, Hamilton en Wellington) goed te ondersteun.
Lees gerus meer oor SAFE op hul webblad, by http://www.safeaspirations.com/default.asp
Nogmaals baie dankie aan SAFE en al sy mense!
argiewe terug na begin
