‘AI Financial Services’ borg KiwiKasie 7de keer!
AI Financial Services is al ‘n bekende gesig by Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se KiwiKasie. Vanjaar borg hierdie maatskappy KiwiKasie vir die sewende keer, as een van drie Hoofborge.
“Dit is vir my ‘n plesier om weer as borg op te tree,” sê Richard Piechazek, stigter en eienaar van AI Financial Services. Hy bedien al vir meer as nege jaar lank Suider-Afrikaanse immigrante en ander Nieu-Seelanders met huisfinansieringsdienste.
Die oud-Namibiër vervolg: “Suider-Afrikaanse immigrante het ons besigheid deur die jare baie goed ondersteun. Daarom is dit vir my ‘n voorreg om my bydrae tot ons gemeenskap te lewer deur hierdie lekker Afrikaanse geleentheid weer te borg.”
As ervare huisfinansierings-makelaar het hy baie kennis van Nieu-Seeland se finansiële instellings en die eiendomsmark, asook van boumetodes en regulasies. Sy kennis en ondervinding as siviele ingenieur is ook van onskatbare waarde.
“Glo my, ek het al by geleentheid my kliënte afgeraai om ‘n eiendom te koop weens die een of ander strukturele of ander potensiële probleem, of ek het aanbeveel dat hulle vir ‘n sekere afslag onderhandel weens hanteerbare probleme wat ek uitgewys het.”
“Ons finansiële raad en dienste word deur ‘n wye reeks mense benut: van mense wat hul eerste huis koop, tot diegene wat die volgende stap doen en ‘n tweede of derde huis vir beleggingsdoeleindes aanskaf. Verder doen ons ook baie herfinansiering, wat beteken dat ons kliënte se bestaande verbande volgens beter voorwaardes herstruktureer en dan by ‘n nuwe finansiële instelling plaas.”
Richard se advies is gratis – op versoek ook sy ‘ ingenieursopinie’ oor ‘n eiendom se toestand en struktuur. Hy kom sien jou graag in die gerief van jou eie huis om jou persoonlike aansoek te bespreek.
Mense wat hom goed ken, weet dat Richard ‘n ware entrepeneur is, Daarom is dit nie verrassend nie dat hy ook by eiendomsontwikkeling betrokke is.
Indien jy meer wil weet, skakel Richard se kantoor by tel. 09-479 8449, of vir hom persoonlik by 027-222 2116. Sy e-posadres is aifin@xtra.co.nz
argiewe terug na begin
