‘SA Shop’ bobbejaan en al bankvas agter KiwiKasie
Die Afrikaanse Klub stel graag nog een van KiwiKasie se drie Hoofborge voor. Die South African Shop was al verkeie male vantevore ‘n groot borg vir hierdie Afrikaanse feestelikheid in Nieu-Seeland.
Die ‘South African Shop’ is ‘n bekende baken in Auckland en het oor die jare al deel geword van die lewens van talle Suider-Afrikaners in Browns Bay, Whangaparaoa en Howick. Hulle open aan die einde van Oktober hul vierde, vergrote winkel in Rosedale-straat op die North Shore.
Die SA Shop is ‘n ware skatkamer van Suid-Afrikaanse produkte, en ‘n mens kan verlore raak tussen al die soet lekkernye, Afrikaanse musiek-CD’s en fliek-DVD’s, ‘SA Kiwi’-hemde, biltong en droë wors, dranksoorte vanuit Suid-Afrika, bekende kruideniers-handelsmerke vanuit die ouland en vele meer. Om nie eens te praat van al die Afrika-geskenkitems waaruit ‘n mens kan kies nie.
“En moenie die sosiale aard van ons winkels vergeet nie,” lag Jaco Bosman, die eienaar. “Die mense verwyl graag tyd by ons en gesels land en sand met vriende en kennisse. Selfs vreemdes bly nie vir lank vreemd vir mekaar nie, en vele vriendskappe het al daar ontstaan. Die lekker gesels in Afrikaans te midde van al die bekende geure en musiek bly maar vir my lekker om te sien.”
In die Browns Bay-winkel is hul opgestopte bobbejaan ook ‘n groot aantrekkingskrag – veral as die personeel hom voor ‘n Kiwi-Aussie-wedstryd soos ‘n Wallaby aantrek, met ‘n Caste-blikkie innie hand!
Jaco voeg by: “Indien mense te ver van Auckland af woon om in die sosiale ervaring van ons winkels te deel, of bloot nie lus is om te ry nie, kan ons produkte per pos bestel word. Ons aanlynwinkel staan reg om mense tot diens te wees en ons aflewerings geskied flink.”
Die Bestuurskomitee bedank hiermee graag vir Jaco vir sy rojale kontantborgskap om vanjaar se KiwiKasie as Hoofborg te ondersteun.
argiewe terug na begin
