2008 Projekte

KiwiKasie 2008
LenteDans
Winterdans
Kauri-woud stap
Herfsdans



Argiewe


KiwiKasie-terugblik – Jannie & Annake maak baie vriende

>> KiwiKasie Foto's

Ou Julius Ceasar het in 47VC met hierdie befaamde woorde teenoor sy Senaat gespog nadat hy Pharnaces van Pontus oorwin het: Vēnī, vīdī , vīcī.

Na Jannie Moolman en Annake de Villiers se KiwiKasie-konsert in Auckland op 18 Oktober 2008 – en hul optredes in Wanganui, Hamilton en Wellington - sou hierdie twee talentvolle kunstenaars dieselfde kon gesê het: Ons het gekom, ons het gesien, ons het oorwin.  Hulle is nou wel nie die spog-tipe nie – nee, daarvoor is hulle te nederig, maar dat hulle talle en talle mense se bewondering en steun “oorwin” het, is gewis.

Die Afrikaanse Klub se KiwiKasie-organiseerders weet dat daar mense was wat aanvanklik gehuiwer het of hulle kaartjies wou koop omdat hulle dan nie die gaskunstenaars se musiek “geken” het nie.  Gelukkig is hulle oorreed om die saak te ondersteun en ons sal maar nie sê wie op die ou end almal ‘vorerig’ in die CD-koop-ry gesien is nie!

Die hoofkonsert is pragtig deur die gemeenskap van Afrikaanse Kiwi’s ondersteun; die 700 of wat mense in die gehoor het daarvan getuig.  En die gehoor se reaksie was ongelooflik: Mense van alle ouderdomme – ook tieners - het aan die kunstenaars se lippe gehang.  Daar was ‘n mengsel van verwondering en aangename verrassing op die gesigte merkbaar.  Hulle het voorwaar baie harte gesteel.

Jannie het die gehoor as’t ware betower met sy sterk tenoorstem en wye stemomvang, terwyl Annake se talent met die viool mense verstom het.  Hul musiekverskeidenheid en wisselende aanslag was – soos belowe – aangrypend en honderde nuwe aanhangers en ondersteuners is gebore.

Aan die applous gemeet, het die gehoor die voorprogram ook baie geniet.  Jongelinge Andries van den Berg en Yolandi Botha het hul merk deeglik gemaak met ‘n pragtige Afrikaanse sangaanbieding, die bekende Umoya Vrouesanggroep het hul gebruiklike a cappella-benadering met ondersteunende instrumente aangepas en ‘n puik bydrae gelewer, die Auckland City Dukes (ofte wel ‘Klopse’) het die gehoor laat lag en saamsing, en Dewald en vriende het weer ‘n energieke vertoning van polsende Afrikaanse musiek gelewer.

Die kleurvolle klanke, vermeng deur stem, viool, kitaar, klawerbord, klarinet en saksofoon het weggesterf, maar die herinnering aan ‘n wonderlike toer sal vir lank met ons wees.

Om Koos du Plessis se woorde anders in te span:  En die deuntjies bly draal hier in Kiwiland…

 

DANKIE aan KiwiKasie-koördineerder Thys Oosthuizen

 


        KiwiKasie-koördineerder Thys Oosthuizen en sy vrou, Gertjie.

Hiermee sê die Bestuurskomitee van Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland baie dankie aan Thys Oosthuizen, KiwiKasie se koördineerder, vir die reusewerk wat hy gedoen het.  Baie dankie ook aan sy vrou Gertjie, vir haar geduldige ondersteuning.

Dit was ‘n groot taak wat al maande gelede begin en baie suksesvol afgeloop het.  Thys het met goeie beplanning en geduld die vele mense wat gehelp het se bydraes bestuur en mense se oog op die einddoel help rig.  Baie dankie Thys, jy’s ‘n staatmaker!  Dankie ook aan almal wat ‘n rol gespeel het om Thys se taak te verlig.

 

DANKIE aan KiwiKasie-borge

Die Afrikaanse Klub kan nie so ‘n groot en duur projek aanpak sonder die ondersteuning van sterk borge nie.  Hier verskyn die name van al die maatskappye – almal in Suid-Afrikaners se besit – wat hulself tot borgskappe van KiwiKasie 2008 verbind het.

 

ANKERBORG

Lees meer oor SAFE hier.

 

Hoofborge

Fritz Swart Versekeringsdienste
Tel. (09) 475 5250 (www.fritzswart.co.nz)
Lees meer oor Fritz Swart Versekeringsdienste hier.

The South African Shop
Tel. (09) 476 3413  (www.saproducts.co.nz)
Lees meer oor die South African Shop hier.

AI Financial Services
Tel. (09) 479 8449, of selfoon 027-2222116
Lees meer oor AI Financial Services hier.


Steunborge

Pit Stop Browns Bay
Beach Road 749, Browns Bay – Tel. (09) 479 5311 of 479 5314
Lees meer oor Pit Stop Browns Bay hier

• Stationery World Direct
Unit 3/3, William Pickering Dve, Albany (Ook in Silverdale) Tel. (09) 414 4238 / Web: http://www.swd.co.nz/index.html
Lees meer oor Stationery World Direct hier

• Charis Recruitment
http://www.charis.co.nz/
Lees meer oor Charis Recruitment hier

Ons borge help ons om die kaartjiepryse so laag as moontlik te hou sodat dit bekostigbaar is vir gesinne om hierdie spesiale aand by te woon, veral aangesien ons Afrikaanse Kiwi’s nie so baie geleenthede om ons kinders aan goeie Afrikaanse vermaak bloot te stel nie.

Die Bestuurskomitee bedank graag al hierdie borge vir hul betrokkenheid en ondersteuning.  Ons moedig graag almal aan wat hierdie lees en moontlik van ons borge se dienste gebruik kan maak, om hulle te ondersteun.  Hulle verdien ons gemeenskap se ondersteuning omdat hulle bereid is om geld in ons kulturele en sosiale belang te belê.

 

Meer oor ons kunstenaars

Jannie Moolman

Jannie Moolman is in Kwazulu-Natal gebore.  Hy het sy operaloopbaan in 1990 as tenoor begin, na die voltooiing van sy BA-Kommunikasiekundegraad aan die Universiteit van die OVS.  Sy leermeesters sluit in Gudrun Barella, Martia Napier en Eric Muller.

Jannie het in 1992 ‘n solosanger by die Staatsteater in Pretoria geword en rolle in operas vertolk soos Attila, Lucia di Lammermoor en Pagliacci.

Hy het sedert 1994 in operas in Kaapstad opgetree, bv. as Pinkerton in Madam Butterfly en Don José in Carmen, met ander hoofrolle in La Boheme, Don Pasquale, La Traviata, Rigoletto en Nabucco, om enkeles te noem.

Maar Jannie se veelsydigheid het hom ook op die ligte Afrikaanse musiekfront tot ‘n huishoudelike naam verhef.  Hy het al opgetree by feeste soos Spier, Klein Karoo Kunstefees, Aardklop en die Grahamstadse Kunstefees.  Dan word hy ook gereeld by die Huisgenoot Skouspel gesien.

Hy het deur die jare verskeie toekennings ontvang, soos die FNB Vita Life-toekenning vir die mees belowende sanger vir die rol van Arturo in Lucia di Lammermoor (1992) en die State Theatre/SAA Opera Foundation-toekenning (1993).

Sy konsertloopbaan sluit in uitvoerings soos Händel’s Messiah, Schubert se Miss in G, Beethoven se Negende Simfonie, Mozart se Requiem en meer.

Hy het al opgetree saam met orkesleiers soos Gabar Otvös, Carlo Franci, Gérard Korsten, Bruno Aprea en Reinhard Schwarz.  Hy het opgetree in Oostenryk, Duitsland, Engeland, Hong Kong, China en verskeie Afrikalande.

Jannie was voorheen deel van die bekende groep ONS EIE DRIE TENORE.  Hy het ook saam met Karen Meiring opgetree in KLASSIEKE PELLE.  Hy tree ook gereeld saam met Rina Hugo op, nadat hulle saam in die Klein-Karoo Kunstefees-produksie van Gé Korsten se HOOR MY LIED opgetree het.

Jannie, Dozi en die Afrika Mamas is in 2004 met die HERRIE PRYS tydens die KKNK10 bekroon.  Hierdie prys word toegeken aan die kunstenaars wat die grootste ‘herrie’ tydens die fees veroorsaak. Dit is beslis wat Jannie, Dozi en die Afrika Mamas gedoen het met hierdie ‘cross-over’-produksie, waarin Jannie ook komtemporêre musiek en blues sing.

Sy tweede CD, HOëVELD KLEURE, het in 2005 verskyn. Hierdie CD is ‘n groot sukses met liedjies soos IN DIE HOëVELD, DIE BYTELTJIE, HOOG BO DIE SON, HIER IS ‘N MENS en GRANADA.

In 2006 het Jannie ook kragte saamgesnoer met Joseph Clark, vir die vertoning VIVERE. Hierdie vertoning sluit rock, ligte musiek, jazz, blues en klassieke ververkings in en trek groot gehore reg oor Suid Afrika. Na vele versoeke stel Jannie en Rina Hugo ook in 2006 hulle eerste duet-CD vry met liedere soos TIME TO SAY GOODBYE, YOU’LL NEVER WALK ALONE EN JERUSALEM daarop.

Gedurende Julie 2007 word Jannie se derde CD, EK KOM HUISTOE, vrygestel.  Hierdie album bestaan uit ‘n goed deurdagte repertoire. Nuwe, sielvolle ballades soos EK HOU VAN JOU en IEMAND SOOS JY asook die titelsnit EK KOM HUIS TOE neem jou saam op ‘n reis. Hierdie album het ook ‘n ligter, speelse kant met slim verwerkings deur Janine Neethling van die ‘Kat hom weer’ en ‘Angelina / Zooma zooma’.

Annake de Villiers

Annake, se wortels ook deeglig in die klassieke genre geanker en met haar eiesoortige flair vir meer kommersiële musiek, kan sy sekerlik bestempel word as een van Suid-Afrika se mees veelsydige en opwindende violiste.

Sy word gereeld op die verhoog gesien saam met top Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat insluit Steve Hofmeyr, Mathys Roets, Danie Niehaus en Jannie Moolman. Sy tree ook gereeld as solis op met die Johannesburg Festival Orchestra, Kaaptstadse simfonie-orkes asook KZN Simfonie-orkes.

Op die internasionale front het sy al ‘n verhoog gedeel met sterre soos Josh Groban, Helmut Lotti, Luciano Pavarotti, Patrizio en Joshua Bell.

Annake het drie jaar in die buiteland spandeer; onder andere in Engeland, Brasilië en die Midde-Ooste. Dis veral in Brasilië waar sy ‘n liefde vir meer kommersiële musiek ontwikkel het.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy by verskeie orkeste betrokke geraak.  Hier het sy ook die waters van kommersiële musiek getoets in gewilde produksies soos Rock me Amadeus en Roll over Beethoven.

In 2004 stel sy haar eerste CD, U-turn vry. Dit bestaan uit ‘n verskeidenheid liedjies wat strek van Mannetjies Roux en Harlekyn tot by Scent of a Woman en Libertango.

Annake beskou die vrystelling van haar Kersalbum, Santa’s Violin, as ‘n hoogtepunt.  Dit is ‘n instrumentale album met gunstelinge soos Koos Du Plessis se Somerkersfees, Stille Nag, Jerusali, Herders op die Ope velde, asook ‘n paar goue Bony M-treffers soos Mary’s Boy Child, Rivers of Babylon en White Christmas is hierdie ‘n lekkerluister album.  Daar is ook mooi snitte soos Little Drummer Boy, die Franse Kerslied en Jingle Bells.

Lees hier die oorspronlike KiwiKasie 2008 artikel.

 

argiewe                                     terug na begin

   ontwerp :: mari
opgedateer :: nov 2008