2009 Projekte

KiwiKasie
HerfsDans
WinterDans
LenteDans

Argiewe


KiwiKasie 2009: 10 uit 10 vir Nádine!



Nádine is reeds lankal terug by haar huis, maar hier by ons in Kiwiland is daar nog mense wat praat oor hoe aangenaam verras hulle was met haar sang en aanbieding.  Ons plaas hiermee ‘n paar brokkies terugvoering wat Die Afrikaanse Klub ontvang het van organiseerders en aanbieders van konserte in Nieu-Seeland. Hier is n skakel na foto's van die Auckland konsert.

Hamilton-optrede
(Deur Gina Hendricks)

Hoewel Nádine aan heelwat mense taamlik onbekend was, het ons in Hamilton 345 kaartjies verkoop (kinders onder 5 was gratis).

Diegene wat te goedertrou die geleentheid ondersteun het, was aangenaam verras! Nie net is sy pragtig en sprankelend nie, maar sy kan regtig ook sing. Sy het ‘n gemaklike, aangename verhoogpersoonlikheid en beweeg gereeld tussen die gehoor in en betrek mense. En met die verskeidenheid liedjies, was daar iets vir elkeen.

Die hoogtepunt van die aand was toe sy op versoek van iemand uit die gehoor ‘Liewe Ouma’ gesing het -sónder  begeleiding! Lekker baie trane het gerol.

En na die vertoning het sy nog met die grootste geduld die lang tou mense se CD’s en foto’s geteken en saam geposeer vir ‘n foto en met elkeen ‘n geselsie aangeknoop

10/10 Nádine!

Christchurch-optrede
(Deur Tienie Bekker)

Vanaf die eerste ontmoeting op die lughawe het Nádine en haar klankman, Ian, ‘n indruk van opregtheid gemaak.  Nádine het ‘n lieflike sprankelende, spontane geaardheid.  Dit was pragtig om die ekstatiese, kinderlike opgewondenheid op Nadine se gesig te sien toe sy die Limosine sien wat haar van die lughawe af na haar hotel geneem het.

Wat die meeste opgeval het, was haar pragtige uiterlike wat deur haar nog mooier innerlike onderstreep word.  Hoewel dit reeds aan die einde van haar toer was, het sy deurgaans ‘n besonderse sprankel en energie uitgestraal.  Sy was ‘n rolmodel vir die jeug en het jonk en oud bekoor.

Dit was ‘n fantastiese aand en het weer ‘n besondere band tussen al die Suid Afrikaners hier Christchurch, wat dit bygewoon het gebring.  Die opvoering was in een woord, PUIK!

‘n Woord van hartlike dank aan Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland en die borge wat dit moontlik gemaak het.

Ashburton-optrede
(Deur Jan Joubert)

Nadine was 'n uitstekende kunstenaar wat daarin geslaag het om Afrikaans- en Engelssprekendes deel van die konsert te maak. Afgesien daarvan dat die Ashburton-konsert haar laaste optrede in Nieu-Seeland was,het sy haar baie goed van haar taak gekwyt.

Dit was baie lekker om na haar liedjies te kon luister - vernaam die lied oor die Blou Bulle. Die konsert was baie goed bygewoon gemeet aan die aantal Suid Afrikaners en Zimbabwiërs wat in ons gebied woonagtig is, en ons het ook baie goeie ondersteuning van Kiwi’s en ander Engelssprekendes gehad.

Wellington-optrede
(Deur Anette Klaassen)

Ten spyte van die tegniese haakplekke aan die begin van ons konsert, het alles goed afgeloop en is die aand deur ‘n ieder en ‘n elk geniet.  Die gees onder die gehoor was wonderlik. Hulle het lekker saam hande geklap, gesing en die mooi musiek vreeslik geniet.

Nádine het die gehoor selfs uitgenooi om by haar op die verhoog te langarm-dans, en die gehoor kon die wenner aandui.

Die CD’s het baie goed verkoop, al moes ons bestellings neem omdat die meeste by vorige optredes uitverkoop is.  Nádine het voor ons konsert nog CD’s van Suid-Afrika af bestel, maar dit was toe by Nieu-Seeland se doene vertraag vir inspeksies wat hulle wou doen.  Gelukkig het dit nie die mense verhoed om bestellings te plaas nie, en sal hulle nog lank na die konsert na Nádine se musiek kan luister.

 

argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
bygewerk :: nov 2009