KiwiKasie 2010 – Ontmoet die eerste van ons twee STEUNBORGE
Die South African Shop (Rosedale Road) staan bankvas agter KiwiKasie en Afrikaanse kultuur.
Die eienaars van die South African Shop in Rosedale Road in Albany, Francois en Elsabe Esterhuysen, voel bevoorreg om hierdie Afrikaanse feestelikheid te borg, "want ons is lief vir Afrikaans".
Die South African Shop, op die hoek van Rosedale & East Coast Road in Albany, is besig om al gewilder te raak as "die SA-winkel met 'n eiesoortige karakter" op die North Shore. Nou slegs 2 jaar oop, is dit die nuwe eienaars van die afgelope sewe maande se missie om die winkel aan voornemende kliënte bekend te stel, aangesien min mense in die verlede besef het dat daar nog 'n winkel is wat gewilde Suid-Afrikaanse produkte op die North Shore verkoop - en sodoende bied hulle aan inwoners 'n wyer keuse van waar hulle hul benodigdhede kan koop. Met heelwat bemarking en met persoonlike betrokkenheid van die eienaars, raak die winkel al hoe meer gewild as die inkopiewinkel wat diep in kliënte se harte nesskop "omdat ons lief is vir mense en vir hulle omgee, al is hulle nog vreemdelinge aan die begin," sê Elsabe wat voltyds by die winkel betrokke is.
Groot verskeidenheid SA produkte...
Die winkel in Rosedale Road is ‘n ware skatkamer van Suid-Afrikaanse produkte en ‘n mens kan verlore raak tussen al die soet lekkernye, Afrikaanse musiek-CD’s en fliek-DVD’s, ‘SA Kiwi’-hemde, houtskool en brikette, dranksoorte en wyne uit Suid-Afrika, bekende kruideniers-handelsmerke uit die ouland en vele meer - om nie eens te praat van al die Afrika-geskenkitems waaruit ‘n mens kan kies nie. Daar is ook in die afgelope maande hard gewerk om nuwighede by te voeg soos Rooibos-ekstrak skoonheidsmiddels, Rugby Wereldbeker 2011 se amptelike klerereeks en vele meer. Al die DVD's in die winkel is ook nou te huur op 'n dagtarief. Daar is juwele uit Afrika, 'n groter verskeidenheid Afrika-geskenke, skilderye deur skilders wat nou in Nieu-Seeland woon, tuisgebak en van die nuutste SA kunstenaars se musiek-CD's. Die boerewors, biltong, droëwors en chilli-biltong is groot treffers en baie gewild onder kliënte.
Lekker kuierplek..
“En moenie die sosiale aard van ons winkel vergeet nie,” voeg Francois laggend by. “Die mense verwyl graag tyd by ons en gesels land en sand oor hul herkoms in die ou land en planne in die nuwe land. Selfs vreemdes bly nie vir lank vreemd vir mekaar nie, want kort voor lank ontmoet hulle iemand wat eintlik presies dieselfde dinge deurgaan as hulself. Moet dus nie oorhaastig raak as jy by ons wil koop nie, ons het tyd om na almal te luister" beduie Francois. "Die grootste lekker is as Afrikaanssprekende kliënte vir die eerste keer instap en met verwondering staar as ons hul in Afrikaans groet en bedien, maar die winkel is ook net so gewild onder Engelssprekende Suid-Afrikaners en mense van ander kulture” sluit Francois af.
Bestel jou produkte per internet en ontvang dit per koerier..
Elsabe voeg by “indien mense te ver van Auckland af woon om in die sosiale ervaring van ons winkels te deel, of bloot nie lus is om te ry nie, kan ons produkte aan lyn bestel word. Ons aanlynwinkel op webwerf www.southafricanshop.co.nz bied presies wat in die winkel beskikbaar is en aflewering geskied binne 2 dae per pos of per koerier, selfs so ver as Invercargill.”
