‘Olie daai litte!’ - Dewald en Frikkie hou konsert

Elke liefhebber van lekker opgewekte Afrikaanse musiek mag hierdie konsert nie misloop nie… Dewald en Frikkie – Auckland se gewilde Afrikaanse musiekpaar – hou op 1 Julie hul eerste eie konsert. Hulle sal heelwat van die liedjies speel wat reeds gereed is vir hul eerste Afrikaanse musiek-CD bestem. Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland ondersteun hul konsert met ‘n borgskap en promosie.

“Ons wil met hierdie konsert aan ons nuwe Afrikaanse CD ‘n toon in die water gee en Afrikaanse Kiwi’s in Auckland se reaksie toets. Natuurlik sal dit ook help om fondse te in om vir ons nuwe CD te help betaal,” sê Dewald Kritzinger.

Almal wat al ‘n konsert of funksie van Die Afrikaanse Klub bygewoon het, sal vir Dewald ken. Hy is die man met die towervingers wat ‘n klawerbord kan kielie dat hy luister, soos iemand dit al gestel het. Waar hy ‘n musikale uitdaging aanraak, is die eindresultaat gewoonlik ‘n heerlikheid wat jonk en oud se voete laat jeuk. Dit is verlede jaar weer bewys toe hy en Frikkie Senekal in die voorprogram van Die Afrikaanse Klub se KiwiKasie - met Steve Hofmeyr as gaskunstenaar – opgetree het. Hulle het die gehoor laat krul van plesier en die dawerende applous het alles gesê wat te sê is.

Frikkie se energieke kitaarspel pas pragtig by Dewald se op-en-wakker styl en die twee het die afgelope maande ‘n hegte musikale vennootskap gevorm. Hulle werk tans aan ‘n CD en almal wat hierby ‘n kulturele belang het, is opgewonde oor hul eerste Afrikaanse CD se koms. Hulle het oorspronklike Afrikaanse musiek geskryf en opgeneem en beplan om dit later in Nieu Seeland en Suid Afrika te loods. Albei manne is Christene en beplan om na die geboorte van hul sekulêre Afrikaanse CD ook ‘n geestelike CD die lig te laat sien.

Een van Die Afrikaanse Klub van NS se doelwitte is om aan plaaslike talent die geleentheid te bied om hul staal te toon in die voorprogramme van KiwiKasie, wat besoekende sterre na Afrikaanse Kiwi’s in Nieu-Seeland bring. So is talle individue en groepe al aan immigrante (en die breër gemeenskap) in Nieu-Seeland blootgestel - ook Dewald en Frikkie.

Die tweemanskap handhaaf dieselfde beginsel, aangesien hulle vir André de Wet, die Kiwi-Afrikaanse Liedjieboer, uitgenooi het om ter ondersteuning aan hul voorprogram deel te neem. Hulle betrek ook drie ondersteunende harmoniserende stemme, naamlik Leonie du Plessis, Marina Herbst en Corli Rothmann. (Al drie is lede van die gewilde plaaslike Suid-Afrikaanse a cappella-groep UMOYA.

Kom aan, julle Afrikaanse Kiwi’s, laat ons hierdie inisiatief ondersteun. Kom ons maak dit vir hierdie duo die moeite werd om voort te gaan om hul eerste Afrikaanse CD op Nieu-Seelandse bodem te produseer. Kom geniet hul mengsel van oorspronklike en ander gewilde Afrikaanse liedjies.

‘Olie daai litte’ – ‘n Afrikaanse musiekkonsert
Waar?     Die ‘Rose Garden Theatre’
              The Rose Centre, Belmont (Takapuna) Auckland)
Toegang: $15 per persoon
Hoe laat? 6nm
Navrae:   Dewald Kritzinger, by e-pos: dewald@xtra.co.nz


argiewe                                     terug na begin

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: aug 2006