2007

Hier komme ding met Dewald & Frikkie!

Hulle sing 80% nuwe liedjies vanuit Suid-Afrika

Hier kom weer ‘n ding! Die gewilde musiekpaar van Auckland, Dewald Kritzinger en Frikkie Senekal (meer bekend as ‘Dewald en Frikkie’) gaan weer so maak. Hulle bied weer ‘n Afrikaanse konsert aan en betrek weer vir Andre de Wet, wie se eie komposisies, diep stem en rustige kitaarmusiek groot aanklank by plaaslike gehore vind. Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland ondersteun graag met trots die konsert wat op 30 Maart aangebied word.

“Ons gaan nie bloot herhaal wat ons by ons vorige konsert gesing het nie,” sê Dewald. “Goed 80% van ons program gaan ons interpretasie wees van gewilde nuwe Afrikaanse liedjies wat deesdae in Suid-Afrika gehoor word.”

“Maar ons gaan darem ‘n paar van ons ou treffers op ‘n nuwe manier speel,” herinner Frikkie hom met ‘n breë glimlag en voeg by: “Wat meer is, die mense sal kan dans ook as hulle wil, want daar is ‘n klein dansvloer in die plek!” Frikkie is ‘n man wat homself geleer kitaar speel het en nou speel soos ‘n “pro”. Saam met die talentvolle toorvingers van Dewald is hulle ‘n formidabele kombinasie, wat sommer nou die dag nog by EMO Adams se konsert in die voorprogram die gehoor in die stoele aan die dans gehad het.

Hierdie energieke driemanskap musikante het gereeld hul gehore se voete aan die jeuk en daarom het hulle ‘n optreelokaal gekies met ‘n klein dansruimte. Dit is nou vir diegene wat oplaas voor die dansversoeking wil swig terwyl die konsert aan die gang is, lag die manne. En met al die nuwe klanke wat belowe word, klink dit darem net te lekker.

“En wat meer is,” sê Andre de Wet, “die toegangsprys is weer eens uiters billik. Die hoofdoel is nie om so veel moontlik geld te probeer maak nie, maar eerder om dit baie bekostigbaar te hou sodat enigiemand hul mense kan saambring. Ons wil maar net die genot van Afrikaanse musiek aan mense bring, en glo my, ons geniet dit!”

Kom ondersteun die gewilde musiekpaar van Auckland, Dewald en Frikkie wanneer hulle binnekort hul tweede Afrikaanse konsert aanbied. Hulle betrek ook vir liedjieboer Andre de Wet meer en die aand beloof om baie vermaaklik en aksievol te wees. Sowat 80% van hul liedjies sal verwerkings wees van van die gewildste nuwe Afrikaanse klanke uit Suid-Afrika, terwyl ‘n paar ouer nommertjies ook afgestof sal word.

Kom ondersteun die manne wat so hard werk om hul talent tot vermaak van immigrantgehore in te span – die toegangspryse is uiters billik.

Datum: 30 Maart 2007
Tyd: 8.30nm
Plek: Jonmer Teater, Corelli School of the Arts (agter Janssens, Browns Bay)
Toegang: Ouer as 12 jaar: $15 per persoon; Jonger as 12 jaar: $10 per persoon
Kaartjies: Kaartjies beskikbaar by alle SA Kafees in Browns Bay, Howick en Orewa; Fred’s Fine Foods en Janssens, of epos info@dewaldenfrikkie.com </ym/Compose?To=info@dewaldenfrikkie.com>
Borg: Fritz Swart Versekeringsdienste (Tel 021-183 8936)
Projek ondersteun deur: Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland

                                           

   ontwerp deur :: mari
opgedateer :: maart 07