2008

Dewald & Frikkie Opskop Nr. 2.

Afrikaanse Kiwi’s in en om Auckland kan nie kla oor dansgeleenthede nie, want so pas is Die Afrikaanse Klub se suksesvolle WinterDans verby, of Dewald & Frikkie se ‘OPSKOP no 2’ word aangekondig!  Almal wat hul eerste dans met lewendige orkesmusiek bygewoon het, sal onthou watter lekker wakker, wille kleurvolle geleentheid dit was.

Op Saterdag 2 Augustus maak hulle weer so.  Andre de Wet, Calista en Leanie sal ook weer soos voorheen die spanpoging versterk wanneer hulle saam met Dewald en Frikkie lewendige dansmusiek tot 11.30nm sal speel.

Dewald sê:  “Verlede keer het ons teen 10 uur die aand ‘n halfuur van ‘Trance’-musiek vir die jongklomp gespeel, maar ons het besluit om dit hierdie keer eers teen die einde van die aand – vanaf 11.30 tot 12 uur – te doen.

Hy verseker die gemeenskap dat OPSKOP Nr 2 nog groter en beter as die vorige een sal wees.  “Al die kaartjies vir ons Opskop in Maart vanjaar was vooraf uitverkoop, dus wil ons almal aanraai om weer vinnig te spring!  Verlede keer wou ons mense nie teleurstel nie en het ons te veel verkoop vir die perseel.  Ons sal nie weer dieselfde kan doen nie.”

Maar sal die orkes onophoudelik tot 11.30 kan speel, wanneer die ‘Trance’-musiek begin?

Dewald verduidelik:  “Wanneer die orkes hul drie pouses van 15 minute elk deur die loop van die aand neem, sal ons dansmusiek vanaf CD’s verskaf, waarop ook gedans kan word.

“En onthou, ons beplan om stiptelik om 8nm te begin.  Dit gaan ‘n unieke aand van dans en vermaaklikheid wees met dansmusiek wat ‘lewendig’ uitgevoer word op ‘n groter verhoog as by OPSKOP Nr 1”.

Hulle beplan om weer die nuutste Afrikaanse danstreffers uit Suid Afrika te speel, so mense kan dans of terugsit en luister.

So, maak gereed om jou “sokkies af te blaas”.  Maar, voeg Dewald by, “Jy sal dit slegs kan geniet as jy daar is!”  Hoe’s daai vir ‘n uitdaging.

Koop nou jou kaartjies vir Opskop Nr. 2!
  
As jy nie jou kanse wil verspeel om van die beperkte hoeveelheid kaartjies te kry wat vir OPSKOP Nr. 2 beskikbaar is nie, moet jy gou speel, want Brokkies gaan nie die volgende twee weke verskyn om jou geheue te help verfris nie. (Lees meer hieroor in ‘n beriggie hier onder.)

Waar is kaartjies oral beskikbaar?

Dewald & Frikkie se ‘OPSKOP no 2’ vind op 2 Augustus plaas, en kaartjies is beskikbaar by al vier take van die SA Kaffee (Browns Bay, Rosedale, Howick en Whangaparaoa) asook by Fred’s Fine Foods.

Wie sing almal?

Andre de Wet, Calista en Leanie sal soos voorheen Dewald en Frikkie se spanpoging versterk en lewendige dansmusiek tot 11.30nm speel.  Daarna, vir die halfuur tot middernag sal ‘trance’-musiek vir die jongklomp gespeel word.

Die groot pret begin om 8nm.  Kom geniet weer die nuutste Afrikaanse danstreffers uit Suid Afrika wat ‘lewendig’ uitgevoer word – hierdie keer op ‘n groter verhoog as by OPSKOP Nr 1.

Onthou, soos Dewald sê, “dit sal nie ‘n konsert wees nie, maar net dans, dans, dans!”