2009
Skud jou vere reg vir Opskop 2009!
Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se gewilde OujaarsDans is skaars verby, of Dewald & Frikkie se ‘OPSKOP 2009’ is reeds op die spyskaart vir 28 Februarie 2009.
Die Afrikaanse Klub het al vir baie jare ‘n goeie samewerkingsverhouding met Dewald Kritzinger en Frikkie Senekal, en ondersteun graag ook hierdie dansinisiatief van die twee talentvolle musikante.
Almal wat al ‘n konsert of funksie van Die Afrikaanse Klub bygewoon het, sal vir Dewald ken. Hy is die man met die towervingers wat ‘n klawerbord kan kielie dat hy luister, soos iemand dit al gestel het. Waar hy ‘n musikale uitdaging aanraak, is die eindresultaat gewoonlik ‘n heerlikheid wat jonk en oud se voete laat jeuk. Hy en Frikkie tree gereeld in die voorprogram van Die Afrikaanse Klub se KiwiKasie op.
Frikkie se energieke kitaarspel pas pragtig by Dewald se op-en-wakker styl en die twee vorm ‘n formidabele eenheid.
Een van Die Afrikaanse Klub van NS se doelwitte is om aan plaaslike talent die geleentheid te bied om hul staal te toon in die voorprogramme van KiwiKasie, wat besoekende sterre na Afrikaanse Kiwi’s in Nieu-Seeland bring.
So, as jy van lewendige, byderwetse Afrikaanse ritmes en klanke hou, met ‘n lekker dosis van ander populêre musiek tussenin, teken dan 28 Februarie in jou dagboek aan. Dewald met sy towervingers op die klawerbord en Frikkie Senekal met sy vaardige vingers op kitaar oefen reeds hard aan hul program om vir danshonger mense ‘n paar uur lank lekker te laat dans.
Hulle sal weer bygestaan word deur die vriendelike, singende susters, Calista en Leanie Ferreira.
Elke liefhebber van opgewekte Afrikaanse musiek mag hierdie dansgeleentheid nie misloop nie. Luister gerus na hierdie klankgreep om te hoor hoe hulle klink.
‘Opskop 2009’
Wanneer? 28 Februarie 2009
Waar? East Coast Bays Leisure Centre, Bute Rd, Browns Bay, North
Shore City
Toegang: $15 per persoon oor 14 jaar oud (jonger $5)
Kaartjies: Alle takke van die SA Kaffee, asook by Fred’s Fine Foods in
Albany.
Hoe laat? 7nm vir 8nm
Eet & drink: Bring jou eie piekniekmandjie
Navrae: opskop2009@gmail.com