Suid-Afrikaanse Kiwi’s verenig rondom rugby >> Foto's
(Uit ‘Brokkies’ - 2 Mei 2007)
“Die spontaniteit en samehorigheidsgevoel wat tussen die wit en bruin
Suid-Afrikaners geheers het, was ‘n riem onder die hart,” sê
Riedewaan Waggie, mede-organiseerder van ‘n groep rugbyondersteuners
wat ‘n paar weke gelede ‘n toerbus betrek en in Hamilton gaan
kyk het hoe die Sharks teen die Chiefs verloor. Meer persone het by die veld
by die busgroep aangesluit.
“Ek en my mede-organiseerders van hierdie rugbyondersteunersgroep, Angelo
Jacobs, die Auckland City Dukes se Bestuurspan en MI Events, is baie dankbaar
dat hierdie geleentheid werklikheid geword het en dat daar steeds energie
bestaan om die konsep verder uit te brei.
“Dat Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland ons so mooi ondersteun het
in woord en daad, het die kroon gespan. Dit was lekker dat mede-Suid-Afrikaners
van verskillende agtergronde saamgedoen het aan een van die dinge wat ons
almal na aan die hart lê: rugby!” So vertel ‘n opgewonde
Riedewaan, self ‘n Klops van ouds en stigter van Kiwiland se eie Klopsegroep,
die Auckland City Dukes, met wie Die Afrikaanse Klub al lank ‘n goeie
samewerkingsverhouding het.
Dit het alles begin by die vorige Super 14-wedstryd tussen die Sharks en die
Blues, toe ‘n groepie Suid-Afrikaners toevallig naby mekaar in die pawiljoen
gesit het en so lekker saam ondersteun het, dat hulle hul kragte en stemme
begin saamgooi het. Hulle het net daar besluit om dit weer te doen - die keer
op ‘n georganiseerde grondslag.
‘n Paar weke gelede het Brokkies berig dat die groep gereed gemaak het
om ‘n toerbus vol te maak om vanuit Auckland na die wedstryd tussen
die Sharks en die Chiefs in Hamilton op te trek. Dit is al ou nuus dat die
Sharks daardie een verloor het, maar dit is nie die skuld van die groep entoesiastiese
ondersteuners nie!
Die Hamiltonse rugbyskare se oë het geamuseerd gerek toe die luide groep
“Klopse” die stadion binneval. Ja, oukei, dit was nie streng gesproke
‘n Klopsegroep nie, maar Riedewaan en ‘n paar van sy werklike
Klopsemaats het van hul kleurvolle uitrustings aan die ander groeplede aangebied
en ‘n hele klomp was alte gretig om mee te doen om daardie unieke Suid-Afrikaanse
kultuur te help uitbeeld.
Almal in die groep het miskien nie al die woorde geken nie, maar allerlei
weergawes van Olê Olê Olê Olê, Shosoloza, Warme Worsie,
Bobbejaan klim die berg, Al lê die berge nog so blou, Jaloersbokkie,
Oh sweet soul en meer het te midde van hul tromslae, simbale en fluitjies
vir aangename vermaak vir die Kiwi-skare gesorg. Sommige Suid-Afrikaners het
later van ander sitplekke af aangesluit en spontaan ingeval.
Dit was ‘n baie geslaagde uitstappie en die hoop is onder die teenwoordiges
uitgespreek dat hierdie soort samesyn van krag tot krag sal gaan.
Naskrif:
Die groep sou later ‘n vergadering hou om te besluit oor verdere rugbyondersteunerstoere,
soos om moontlik na die Springbokke se Drienasiewedstryd teen die All Blacks
in Christchurch (op 14 Julie) te gaan kyk, en moontlik ook na die kragmeting
tussen die Springbokke en Wallabies in Sydney wat op 7 Julie plaasvind. Die
Afrikaanse Klub het in ‘Brokkies’ ‘n advertensie vir belangstellendes
onder “Gemeenskaps-advertensies” geplaas.
