2010
Nabetragting - Steve Hofmeyr se konserttoer in NS
Altesaam 10 suksesvolle konserte! > Foto's
Steve Hofmeyr het gedurende Mei 2010 altesaam 10 uiters suksesvolle konserte oor die lengte en breedte van Nieu-Seeland gehou binne die bestek van 10 dae – sonder ‘n rusdag tussen-in. Daar was konserte in Hamilton, Auckland (2), Rotorua, New Plymouth, Palmerston North, Napier, Wellington, Christchurch en Ashburton. In Auckland moes baie mense teleurgesteld omdraai omdat hulle te lank getalm het om kaartjies te koop en toe hulle wakkerskrik, was al die kaartjies vir altwee konserte uitverkoop. Uit al bogenoemde dorpe het die organiseerders net goeie kommentaar en waardering van konsertgangers gekry. Hiermee dan ook ‘n woord van hartlike dank aan al die organiseerdes op die verskillende plekke vir hulle moeite en ondernemingsgees om die konserte aan te bied, asook aan almal wat op een of ander wyse ‘n bydrae gelewer het om van die toer ‘n sukses te maak. Hierdie konserttoer was nie ‘n projek van Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland nie, maar die Klub het die toer deur middel van sy weeklikse e-nuusbrief “Brokkies” gepromoveer en volgens die organiseerders was die sukses van die toer grootliks toe te skryf aan die reklame wat Brokkies daaraan verleen het.
Volgende jaar maak ons weer so!
Daar was so baie versoeke om Steve volgende jaar weer na Nieu-Seeland te bring en Steve self het aangedui dat hy die besoek baie geniet het en graag weer sal wil kom kuier, dat planne reeds beraam word om hom volgende jaar weer na Nieu-Seeland te bring. Moontlik kan so ‘n besoek saamval met Rugby se Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland!
Stel jy belang in foto’s van die konserte in Auckland?
Chris Botha Photography het baie foto’s by die 2 konserte in Auckland geneem en gaan dit op sy Facebook-blad sit vir almal om te sien. Indien mense van die foto’s wil bestel, kan hulle net by die verlangde foto hulle besonderhede gee en hy sal dit dan gratis vir hulle per e-pos stuur
Gebruik hierdie skakel na Chris se Facebook-blad: http://www.facebook.com/home.php?sk=lf#!/pages/Auckland-New-Zealand/Chris-Botha-Photography/201651065020?ref=ts. Mense kan ook net vir Chris Botha Photography soek op Facebook. Mense kan ook vir hom e-pos stuur na chris@chrisbotha.co.nz of met hom in verbinding tree deur sy webblad www.chrisbotha.co.nz. Chris fokus op troues, portrette (individue, groepe, families, babas, besighede, ens) asook vir geleenthede soos die konsert van Steve Hofmeyr