- Ons glo dat die mens in sy volheid ook is wat sy taal hom maak.
Die Afrikaanse Klub se lede het almal met positiewe denke die uitdaging
van emigrasie, met al sy veranderinge, aanvaar. Ons wil egter ook deur die
aanbieding van tipiese Suid-Afrikaanse aktiwiteite - wat in baie
gevalle ook ander taalgroepe interesseer en betrek - ‘n “watergat”
bied waar Afrikaanssprekers van tyd tot tyd versterk kan word om hul aanpassingstaak
in die nuwe land makliker te maak.
- Ons glo dis reg en ook noodsaaklik om positief by die Kiwi-gemeenskap
in te skakel. Ons glo egter ook dat ‘n mens dit kan en mag doen met
behoud van jou identiteit.
Waar Kiwi’s lank gewoond was aan Nieu-Seeland as ‘n grootliks mono-kulturele land en eers onlangs moes begin gewoond raak aan die gedagte dat dit eintlik ‘n bi-kulturele land is, het die onlangse jare se toevloei van vreemde tale en kulture dit ‘n multi-kulturele land gemaak. Hierdie verskynsel groei tans vinnig. (Lees gerus meer by www.stats.govt.nz (Census 2001 results)
- Die Klub is dankbaar dat Nieu-Seeland se Ministerie van Etniese Aangeleenthede
hierdie ideale steun, soos voorheen deur sy verteenwoordiger by ‘n
groot Klubprojek aan die groot, meestal Afrikaanse gehoor oorgedra is.
Die owerhede moedig juis alle immigrante tydens burgerskap-seremonies aan om dit wat mooi en goed is uit elkeen se kultuur en taal te behou en in Nieu-Seeland te geniet. Hulle besef dat hierdie benadering dit vir mense moontlik maak om gebalanseerd hul goeie bydrae tot die Kiwi-samelewing te maak. Dit help die stres van aanpassing temper.