Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland bied aan Suider-Afrikaanse immigrante ondersteuning wat insluit sosiale netwerke, kulturele ontspanning, besigheidsnetwerking en verwysing na relevante ondersteuningsdienste.
Die Afrikaanse Klub bied die Suider-Afrikaanse immigrant:
- ‘n Kwartaallikse Afrikaanse klubtydskrif, Uit-maar-Tuis, die Klub se lyfblad.
- 'n Weeklikse elektroniese nuusbrief, Brokkies, wat as advertensie- en skakelmedium dien. Hierdie nuusbrief word reeds bykans 1,600 e-posadresse gestuur. Mense buite Suid-Afrika kan ook hierop inteken.
- Afrikaanse musiek & toneel. (Lees ook oor ons 3 fokusgebiede)
- Sosiale funksies.
- 'n Sosiale netwerk.
- 'n Besigheidsnetwerk.
- Verwysing na goeie inligtings- en ondersteuningsdienste wat nuwe immigrante ondersteun met hul sinvolle inskakeling in Nieu-Seeland.
- Taalprojekte. Ons fasiliteer die daarstelling en uitbouing van basiese versamelings Afrikaanse boeke (vir alle ouderdomme) op die rakke van sekere biblioteke in Nieu-Seelandse stede/dorpe. Net so poog ons om standhoudende fasiliteite te skep waardeur basiese Afrikaanse praat-, lees- en skryfvermoëns aan jong kinders in Nieu-Seeland oorgedra word. So het ons eerste Afrikaanse Skryfkompetsisie in 2003 die lig gesien.
- Ons webblad bied ook Geelbladsye waarop besighede van Suid-Afrikaners kan adverteer. Ook Kiwi-besighede kan hierop adverteer indien Suid-Afrikaners daar werksaam is en 'n bepaalde goeie diens aan ander Suid-Afrikaners gelewer kan word.
Wat behels ons drie Fokusgebiede?
-
Ons Gesinsfokus
Die Afrikaanse Klub bied die volgende projekte aan vir Klublede en ander belangstellendes om in gesinsverband geniet te word:
- Danse (Bv. Ons gewilde Oujaarsdans)
- Staptogte
- Musiek- en sangkonserte
- n Pretdag
- Sop- en Vetkoekaand
- Braaivleise
- Rolprentvertonings
-
Ons Kunstefokus
Die Afrikaanse Klub het sy eerste Afrikaanse Kunstefees gedurende 2001 in Nieu-Seeland aangebied. Dit was bekend as Potpourri KunsteKwêla. Hierdie projek het getoon dat die kunste die gemene deler tussen mense ontgin en verskillende smake bevredig.
Sowat 2,000 Suid-Afrikaners op die NorthShore van Auckland is so byeen gebring. Die dagprogram se inhoud was ongeveer 60% in Afrikaans en 40% in ander kulture se tale, tydens die multikulturele program.
So positief het die staat (deur Creative New Zealand) hierdie projek se sakesplan geag, dat hulle aan die Klub ‘n borgskap van $2,500 vir hierdie projek toegestaan het. (Lees die volledige artikel oor hierdie geskiedkundige gebeurtenis.)
-
In 2002 het hierdie program verder gegroei en is as KiwiKasie Kunstefees herdoop. Die dag se "Rimpelfees" het veertien kultuurgroepe betrek. Mathys Roets was die hooftrekpleister by die aand se Afrikaanse konsert met 'n interessante voorprogram van plaaslike Afrikaanse talent. (Lees die volledige artikel oor die eerste KiwiKasie.) -
In 2003 het KiwiKasie heelwat groei ervaar. Ons het vir Jannie du Toit en Christa Steyn na Auckland gebring vir 'n Afrikaanse konsert met 'n rekordgetal van 850 mense. Ons het ook vir hulle die mees omvangryke toer van Afrikaanse kunstenaars deur Nieu-Seeland gefasiliteer, deurdat hulle in vyf ander sentra opgetree het. Daarbenewens is die dag se multi-kulturele Rimpelfees baie uitgebrei. Lees meer hier.
-
Ons Uitreikfokus
Die Afrikaanse Klub reik uit na Kiwi’s en Engelssprekende Suid-Afrikaners met projekte wat daarop ingestel is om Afrikaanses se beeld as positiewe bydraers tot Kiwiland te verbeter.
Die Klub is ook lid van die Multi-Cultural Society, waar ons met talle ander kulture skakel. Ons het reeds ‘n noue verbintenis en samewerking met hierdie interessante groep mense en het al verskeie projekte saam aangebied.
Hoe werk die Klub?
Die Klub word bedryf deur vrywilligers wat jaarliks deur Klublede by 'n algemene
jaarvergadering verkies word.
Die Bestuurskomitee (ondersteun
deur 'n dagbestuur) gee die rigting aan, beplan projekte en voer dit met die
hulp van ander medewerkers uit.
Die Klub se vergaderings, byeenkomste, amptelike kommunikasiemediums en algemene
werksaamhede word in die Afrikaanse taal bedryf.
Die meeste projekte plaas die klem op gesonde aktiwiteite vir die gesin.
Al hierdie dinge word gedoen met inbegrip van en die dikwelse insluiting van
die Nieu-Seelandse samelewing om ons.
Wat is die Klub NIE ?
- 'n politieke party of groepering
- 'n protesgroep
- lid of inisiatief van enige Suider-Afrikaanse organisasie of kultuurvereniging nie.
Ons bestaan vir almal wat Afrikaans gebruik en geniet.
terug
na begin
